OUDTSHOORN NUUS - Die uitvoerende burgemeester van Oudtshoorn-munisipaliteit, Johan Allers, die onder-burgemeester, Zoë Tyatya en Christine Muller, raadslid van die menslike nedersettings portefeulje-komitee het op Donderdag 22 Mei 24 huise aan begunstigdes in Dysselsdorp oorhandig.
Tydens die oorhandiging het Allers genoem dat die oorhandiging die afhandeling is van die ontwikkelingsfase wat daarop gemik is om mense waardigheid te gee deur hul te voorsien van huise.
"Die volgende fase sal die allokasie van gedienste erwe aan begunstigdes behels wat die pad oopmaak vir konstruksie. Ons doel is meer behuisingsprojekte binne die volgende vyf jaar in die Groter Oudtshoorn-gebied gestalte te laat kry."
Allers het die departement van menslike nedersetting bedank, asook ASLA en die Wes-Kaapse regering vir hul deurlopende betrokkenheid en ondersteuning.
"Sonder hulle ondersteuning en harde werk sou die behuisingsprojek nie moontlik gewees het nie."
Raadslid Muller het inwoners aangemoedig om verantwoordelike eienaarskap te neem van die huise. "En onthou om 'n besigheid van jou huis te bestuur kan jou affekteer as dit kom by deernishulp."
Die Dysselsdorp-projek is in Oktober 2021 begin en is die eerste grootskaalse ontwikkeling in die gemeenskap in meer as 26 jaar en dra die projek by tot die bemagtiging van die gemeenskap deur die behuisingsnood aan te spreek. Die projek het ook toegangbaarheid aangespreek met heelwat van die huise wat ingerig is vir gestremdes, veral persone wat rolstoele gebruik.
Die eienaars van die nuwe huise het ook titel-aktes ontvang wat hul die wettige eienaars van die huise maak.
Sedert die aanvang van die projek in Oktober 2021 is 'n totaal van 483 huise en 39 gedienste erwe oor drie finansiële voltooi.
Die projek spreek nie slegs die behuisingsnood aan nie, maar het ook werkskepping tydens die projek geskep.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’