OUDTSHOORN NUUS - "Die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is saamgestel om in alle kunsvorms en genres, vermaak vir alle ouderdomme in te sluit. Daar is iets vir almal."
So sê Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die KKNK, wat volgende jaar Dinsdag 1 tot Sondag 6 April in Oudtshoorn aangebied word.
"KKNK 2025 se veldtog is gebou rondom 'al die ietse' en die program bied juis dit: al die 'ietse', by een fees en op een plek, met opwindende werke vir die eerste keer op die verhoog, asook 'n keur van hoogtepunte uit bestaande produksies. Nie net kan gehore bekende gunstelinge sien nie, maar ook nuwe talent.
Gewilde aspekte van die KKNK bly behoue, maar nuwe konsepte en idees word ook getoets. Skedulering van die teaterprogram is gedoen om gehore volstoom van die eerste dag tot die laaste aand te vermaak. Die Feesmark bars uit sy nate met 'n dag- en aandverhoog waar gesinne van vroeg tot laat kan kuier. Ons nooi almal uit om in die April-vakansie iets spesiaal in die hartjie van die beeldskone Klein-Karoo te ervaar," sê Theart.
'n Spesiale opelug-openingskonsert en aandmark in die Feesmark skop verrigtinge af op Maandag 31 Maart met 'n simfonieorkes onder leiding van die befaamde Richard Cock en spesiale gaskunstenaars. Nataniël sluit die fees op 6 April af met 'n skouspelagtige opelugkonsert, Duif.
Multi-bekroonde produksies is volop, skaterlag-oomblikke gaan baie wees en feesgangers kan uitsien na verskeie musiekhoogtepunte.
Vir die jongspan is daar die besondere kinderteater in die Feesmark se Klein KKNK-teater. Karoo Kaarte bied 'n nuwe produksie, asook 'n besonderse kunsuitstalling.
Liza Grobler, die fees se nuwe kurator van visuele kuns, het 'n program saamgestel onder die tema, Diepe grond, wat regdeur die dorp gesien kan word. Henk Serfontein is die feeskunstenaar vir 2025 en is by drie verskillende uitstallings betrokke.
n Gratis vermaak is volop in Baron van Reedestraat in die Netwerk24-feeskafee langs die CP Nel-museum, waar gesprekke en ander spesiale ervarings aangebied word. Boekstories word in die ATKV-Boeke-oase by Exclusive Books aangebied en die kykNET-leefarea voor die Absa-burgersentrum, asook straatoptredes deur die dag bied verder ook gratis vermaak.
n Die volledige program vir die 29ste KKNK, geborg deur Absa, is aanlyn beskikbaar by kknk.co.za. Kaartjies is te koop by Webtickets of die KKNK se kantoor.
n Vir meer inligting, besoek kknk.co.za of kontak 044 203 8600, info@kknk.co.za of stuur 'n WhatsApp na 065 285 2337.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’