OUDTSHOORN NUUS - Die Eljada-Kairos skool vir leerders met ernstige gestremdhede was verlede Donderdagaand die gasheer van die Oudtshoorn-besigheidskamer se maandelikse netwerkaand.
Die funksie is by die Turnberry Boutique Hotel aangebied en deur 'n groot groep sakelui bygewoon.
Tydens die aand het Hennie Baartman, skoolhoof van Eljada-Kairos oor die noodsaaklike dienste van die skool gepraat.
Hy het gaste daarop gewys dat Eljada-Kairos na die daaglikse opvoedingsbehoeftes van byna 300 gestremde kinders omsien en byna 100 in die koshuis huisves.
"Wanneer ons 'n kind inneem kyk ons nie na geld nie, ons kyk na die kind, want as ons nie vir hom of haar 'n veilige en stimulerende omgewing bied nie, wie anders gaan," het hy gesê.
Hy het die gemeenskap van Oudtshoorn en sakelui bedank vir hulle ondersteuning van die skool. "As ons bloot op staatsfondse moet staatmaak, sal ons sukkel, maar danksy inisiatiewe wat deur die gemeenskap ondersteun word, kan ons ons dienste aan die kinders op 'n heel ander vlak aanbied."
In 'n video na afloop van Baartman se praatjie kon gaste die groot verskeidenheid aktiwiteite en programme wat die skool bied, sien.
Tydens die netwerkaand het ses nuwe lede ook by die Oudtshoorn-besigheidskamer hulle lidmaatskapsertifikate ontvang.
Die instansies was:
Pit Stop, Oudtshoorn Rotariërs, Oudtshoorn Tafelronde, Moon Mist (Pty) Ltd, Transform Construction, Wilma Ferreira Makelaars Oudtshoorn Nissan en Renault.
'n Deel van die uitstalling van handwerk deur die leerders van Eljada-Kairos Skool.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'