DE RUST NUUS - Sarah en Andries Miggels se roeping om 'n sopkombuis vir kinders te behartig, het jare gelede begin toe hulle nog in die Kaap gebly het.
Die Miggels-egpaar het daar besluit dat hulle vir Mandeladag, die kinders met 'n vetkoek en bekertjie sop wou bedien.
Tydens Mandeladag wat op 18 Julie plaasgevind het, was dit ook weer 'n besige dag vir die Miggels, toe hulle 157 kinders met sop, biryani en vetkoekies bedien het.
Die Miggelsse wat intussen na De Rust verhuis het, was telkemale deur kinders wat op pad skool toe was, gevra vir 'n stukkie brood. Hulle het geroepe gevoel om weekliks sop en 'n vetkoekie vir die kinders te gee, dit alles op die Miggelsse se eie onkoste.
"Ons het verlede jaar Junie begin om sop en vetkoek vir die kinders te gee," vertel Sarah.
Sarah het 'n paar jaar gelede 'n groot skoueroperasie ondergaan en Andries is baie ywerig om die deeg vir die vetkoek vir haar te knie sodat sy die vetkoekies kan bak.
"Hy staan my by, ek skep die sop in en hy sit die vetkoekies by en gee dit vir die kinders aan."
Op die stadium leen die Miggelsse die groot potte waarmee hulle die sop kook en word die sopkombuis uit hulle eie kombuisie bedryf.
"Die gogga het ons gebyt, ons wil graag die kinders voer, dis net jammer dat ons vir Mandeladag, nie al die kinders wat by ons kom aanklop het, kon help met kos nie. Ons potte het leeggeraak, en ons moes van die kinders wegwys," vertel Sarah hartseer.
Indien daar mense is wat betrokke wil raak by die Miggelsse se sopkombuis, kan hulle haar skakel by 063 059 8060.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'