MOSSELBAAI NUUS - Eden het sy status as een van Suid-Afrika se voorste toutrekstreke bevestig met 'n indrukwekkende vertoning by die pas afgelope SA Toutrekkampioenskappe in Hartenbos.
Eden se mans, vroue en juniors, waaronder verskeie hoërskoolatlete, het 16 medaljes in die Premierliga en die Presidentsliga ingepalm.
Altesaam 429 atlete van 145 spanne, wat sewe streke verteenwoordig, was hier in aksie. Dis die 54ste keer wat die SA Nasionale Kampioenskappe aangebied is.
Dirk Kotzé, burgemeester van Mosselbaai, het in sy verwelkoming aan die deelnemers, beamptes en toeskouers gesê die SA's bring die land se beste spanne byeen om die krag, eenheid en die ware gees van mededinging te vier.
Hy sê die prestasies wat Suid-Afrika se bestes hier gaan optower sal voortbou op Mosselbaai se trotse kultuur van sportuitnemendheid - 'n nalatenskap van harde werk en toewyding.
Wat opgeval het vanaf die opening op Vrydagoggend 1 Augustus om 09:00 was die fantastiese gees en kameraderie onder die verskillende spanne, wel wetende dat dit tog daaroor gaan om te wys wie se krag, vernuf en voorbereiding sou saamwerk om 'n wenspan op die podium te plaas.
Barries Barnard, president van Eden-toutrek, was in sy noppies met die stewige opkoms en die manier waarop Mosselbaai en Hartenbos gasheer vir die besoekers gespeel het.
"Ons is opgewonde oor die goeie opkoms wat weereens 'n bewys is dat toutrek in Suid-Afrika kerngesond is en dat dit toenemend gewilder raak onder jonger atlete."
Die goue medalje is ons s’n. Kitty Terblanche en Piet Lourens deel hul vreugde nadat Eden vir Wynland geklop het. Foto: Hugo Redelinghuys
Hy sê Eden het vanjaar twee suksesvolle nasionale toernooie in Hartenbos aangebied: die SA juniors en nou die SA's.
"Dit was vir ons 'n proeflopie vir die aanbied van die Internasionale Toutrekfederasie [Twif] se wêreldkampioenskappe in September 2026 - weer in Hartenbos - en ons het dié toets met vlieënde vaandels geslaag.
"Die veld het goed gehou onder die inkaphakke en vastrapgrepe van letterlik honderde stewels tydens die twee dae wat die SA's aangebied is.
"Die oppervlak sal beslis staande bly teen die aanslag van die 20 spanne wat tydens die wêreldkampioenskappe verwag word."
Barnard sê Eden is tevrede met die puik fasiliteite wat Hartenbos bied en het die ondersteuning van Mosselbaai-munisipaliteit en -toerisme, asook bydraes van die Wes-Kaapse regering geloof. "Ons kan met 'n geruste hart die wêreldkampioenskappe hier aanbied."
Hy het die goue medalje wat Eden se vroue in die 600 kg-gewigsafdeling verower het as een van die hoogtepunte uitgesonder.
"Hier het Kittie Terblanche wondere verrig met 'n relatief jong en onervare span wat sy eers einde September verlede jaar onder hande geneem het. En weereens het die befaamde afrigter, Piet Lourens van Riversdal, sy kennis en ervaring ingespan om die vroue in 'n gedugte kombinasie saam te snoer."
Eden se medalje-oes lyk só:
Premierliga
Mans:
• 680 kg, silwer
• 560 kg, brons
• 600 kg, brons
Vroue:
• 600 kg, goud
• 540 kg, silwer
Presidentsliga
Mans:
• 600 kg, goud en silwer
• 560 kg, goud en 2 brons
• 640 kg, silwer en brons
Vroue:
• 500 kg, brons
Gemengde spanne:
• 580 kg, silwer
• 560 kg, goud
• 580 kg, goud en silwer.
Eden (640 kg B-span) se Lukas Lubbe, Jacques Serfontein en Stefan le Roux. Foto: Robert Crous
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’