OUDTSHOORN NUUS - Die bekende Dulux-honde, Jade, Orion en Yoy, het die verlede week besoek in Oudtshoorn afgelê.
Die Ou Engelse skaaphonde het bekendheid verwerf met die gewilde Dulux-verf advertensies op televisie.
Al drie honde werk as terapiehonde. Die trio vorm deel van JOY Dogs en werk sedert 2011 in die opvoedingsektor. Hul missie is om veral kinders te leer dat om 'n hond te besit 'n groot verantwoordelikheid is.
Besoeke word ook gebring aan instansies wat met gestremdes en bejaardes werk.
Dit is nou die program se primêre fokus.
Sue Green, eienaar van die drie, het nog altyd 'n spesiale belangstelling gehad in hondehantering en opleiding en doen dit reeds 25 jaar. Sy het gehelp met die bestuur van ondersteuningsgroepe saam met 'n sielkundige en maatskaplike werker, met die fokus om mense met persoonlikheidsversteurings en sielkundige probleme te help.
Die oorspronklike JOY-honde, Jazmine, Oscar en Yogi, is almal oorlede na jare se bevordering van die handelsmerk - Yola van Hongarye is in Julie 2025 op 12-jarige ouderdom oorlede. Orion het in Julie 2018 van Rusland gekom. Hy is nou sewe jaar oud. Jade is in Oktober 2020 in Bronkhorstspruit gebore en is nou vyf jaar oud. Die nuutste aankomeling is Yoy van Rusland en sy het in September 2025 aangekom. Die organisasie is gebaseer in Glenvista, Johannesburg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’