OUDTSHOORN NUUS - ’n Voertuig wat nie by ’n indraai in St Johnstraat, Oudtshoorn gestop het nie, is Saterdagoggend, 22 November om 09:50, deur ’n forensiese voertuig getref wat onderweg was in St Johnstraat.
Die insident het daartoe gelei dat die voertuig op sy kant op die sypaadjie voor ’n motorhandelaar se winkel beland het en die forensiese voertuig by die vierrigtingstop. Nooddienste was vinnig op die toneel, en die straat was vir ’n ruk vir verkeer gesluit.
Ooggetuies het aan Oudtshoorn Courant gesê dat die sedan-voertuig nie by die stopstraat stilgehou het nie, waarna die forensiese voertuig, wat teen spoed onderweg was, die motor getref het. Die staatsvoertuig het uiteindelik by die vierrigtingstopstraat by die garage op die hoek van St John- en Baron von Reedestraat tot stilstand gekom.
Oudtshoorn Courant is in besit van beeldmateriaal van die ongeluk, waarin die voorval duidelik gesien kan word.
Sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het aan Oudtshoorn Courant bevestig dat ’n saak van roekeloos en nalatige bestuur geopen is.
“Inligting beskikbaar is dat Oudtshoorn-polisie na die toneel ontbied is. Met hul aankoms was daar twee voertuie wat in die botsing betrokke was en het beide bestuurders ligte beserings opgedoen. Beide is per ambulans vir behandeling na die naaste hospitaal geneem. Die oorsaak van die ongeluk word tans nog ondersoek.”
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’