OUDTSHOORN NUUS - "Adam Barnard was 'n gebore dokter wat gelewe het om ander te help en het almal in 'n baie beter plek gelaat as wat hy hulle gekry het." Dit is die woorde van Eureka Barnard, oudste dogter van Barnard na sy dood verlede week. Dokter Adam, soos wat mense hom tydens sy 60 jaar as geneesheer in Oudtshoorn leer ken het, is verlede Dinsdagoggend na 'n siekbed van sewe maande in die ouderdom van 90 oorlede.
Hy het sy praktyk in 1963 in Oudtshoorn begin en het na meer as 60 jaar op 85 afgetree. Sy seun, dr. Deon Barnard, wat tans die praktyk het, was tot sy aftrede saam met hom in die praktyk.
Terwyl dr. Adam die praktyk gehad het, het hy ook vir 40 jaar as distriksgeneesheer gedien.
Nog 'n geneesheer, wat meer as 60 jaar in Oudtshoorn praktiseer, dr. Piet du Toit, het saam met Barnard gegradueer en hulle was in "opposisie praktyke" skerts Du Toit.
"Ons het soms na mekaar se pasiënte omgesien as een van ons met vakansie was, maar pasiënte het geweet, as hulle dokter terug is, is hulle weer by hom. Daar was nooit enige kompetisie of onenigheid tussen ons nie. Met sy dood het ek nie net sy professionele samesyn verloor nie, maar ook 'n hegte vriend," het Du Toit hierdie week gesê.
Hy noem dat Barnard in sy tyd as distriksgeneesheer ook Ladismith en Prins Albert moes dek en skat dat hy ongeveer 26 000 post mortems tydens sy 40 jaar as distriks-geneesheer gedoen het.
"Hy was onberispelik netjies, hy het elke pasiënt met deernis en respek behandel en selfs toe hy ernstig siek was, het hy 'n punt daarvan gemaak om seker te maak dat dit met my eie gesondheid goed gaan. Dit was die tipe mens wat hy was."
Nog 'n bekende algemene praktisyn van Oudtshoorn, dr. Wessel Vermeulen, het hierdie week aan Oudtshoorn Courant gesê: "Dr. Adam Barnard was 'n uiters gewilde en gerekende algemene praktisyn in Oudtshoorn. Ek het vanaf Junie 1979 saam met hom in Oudtshoorn gepraktiseer, maar ken hom reeds vandat ek hier op skool was. Ek onthou hoe hy soggens vroeg, as ons vir 'n geleentheid langs Riempie Hotel gewag het om as gidse in Kangogrotte te gaan werk, ons soms 'n saamrygeleentheid in een van sy spesiale motors gegee het.
Die rit was uiteraard blitsig en ons het ons grootoog aan die Ferrari, Rover of Mercedes se binneruim vergaap. Hy was altyd hulpvaardig, altyd nederig en altyd bereid om te bedien en te help. Hy was nooit bevooroordeeld teenoor enigeen nie. Ras, status, armoede en rykom het nie by hom getel nie. Hy was beslis nie skaam vir opofferende diensbaarheid aan sy medemens nie. Ons eer sy nagedagtenis."
Dr. Barnard se vrou, Freda, wat Freda Barnard-swemskool begin het, en die nasionaal bekende Freda Barnard-swemgala in Oudtshoorn gevestig het, is op 30 Desember 2023 oorlede. Haar dogter, Delia, het die swemskool by haar oorgeneem.
Eureka is die enigste van die Barnard-kinders wat nie in Oudtshoorn gebore is nie. "Ek het in 1963 saam met my ma en pa Oudtshoorn toe gekom. Al my broers en susters is hier gebore en ons het almal in Wesbank en Hoërskool Oudtshoorn skoolgegaan.
Haar vyf sibbe is dr. Deon Barnard, Johan Barnard, Anneli Mostert, Delia van Biljon en Adam Barnard jr. Eureka en Anneli woon onderskeidelik in Kaapstad en Stellenbosch terwyl die ander vier steeds in Oudtshoorn woon. Daar is ook 11 kleinkinders van wie drie tans in die buiteland werk.
Die familie en vriende van Barnard het verlede Saterdag tydens 'n privaat geleentheid sy lewe gevier.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’