KAROO NUUS - Sy reis om uiteindelik sy eie boek met reisvertellings in die hand te hou was dikwels ewe uitdagend as die avonture op sy motorfietse op Suid-Afrikaanse en buitelandse paaie - ’n leefstyl wat hy ná sy aftrede aangedurf het.
So het Leon Coetzee, oudprokureur, kranige motorfietsentoesias en nou skrywer van ’n buiteleweboek oor sy kragtige BMW-avontuurmotorfietse aan vriende, familie en belangstellendes vertel met die bekendstelling van Modder, klei en water by die Oudtshoorn-gholfklub.
Hy dra die boek op aan sy vele medereisigers en aan almal wat dapper genoeg is om hul gemaksone uit te daag.
Sy dogters, Clarisse en Cisca Coetzee van Kaapstad, het ook die geleentheid bygewoon.
Coetzee was nog altyd ’n ywerige storieverteller, en dis onder aansporing van sy vriende dat hy staaltjies bymekaargesit het en aan ’n uitgewer voorgelê het. Hulle het met hom saamgestem dat dié vertellings verewig moet word - oor hoe hy op sy BMW’s omtrent die hele Suid-Afrika verken het, so ook dele van Namibië, Botswana, Zimbabwe, Zambië, Malawi, Mosambiek, Lesotho en Uganda.
In dié fotoboek oor die plekke en paaie wat hy al beleef het, spaar Coetzee homself nie: Behalwe dat hy erken hy die groentjie was wat motorfietsvaardigheid betref, was hy dikwels ook ’n kritiese, “hardegat” reisgenoot, maar ook iemand vir wie opoffering vir sy vriende in uitdagende omstandighede nooit te veel was nie.
Coetzee beskryf homself as “’n buitelewemens, ’n filosoof oor die lewe, oor die liefde en oor goed en kwaad – ’n avonturier wat nie vir risiko’s skrik nie”.
Hy het ’n B.Sc. (Landbou) aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf en as landbouvoorligter in Namibië gewerk. Hierna het hy ’n B.Proc.-graad deur Unisa behaal, waarna hy in Kaapstad, Port Elizabeth en Oudtshoorn as regsgeleerde gepraktiseer het.
“Ek was 60 toe ek die eerste keer op ’n motorfiets geklim het. En so het daar ’n splinternuwe fase in my lewe begin. Ná ’n lang loopbaan as prokureur waarin ek my dae met regsdokumente en in howe deurgebring het, het ek die vryheid ontdek wat die langpad bied. My BMW-avontuurmotorfietse het my gehelp wegbreek uit ou, geykte denkpatrone.”
“Dié vertellings oor my jare lange motorfietsryery sou blote herinneringe gebly het as dit nie vir my biker-pelle was nie. Op ’n dag het hulle aan my begin karring om al die motorfietsavonture wat ek al beleef het, al daardie stories wat ’n mens so graag om ’n braaivleisvuur oor jou bike en mede-bikers vertel - ervarings wat ons sáám beleef het - te begin neerskryf. Hulle was entoesiasties verby oor so ’n projek. Of dalk was dit sommer net die glasies wat gepraat het, want hulle het volgehou dat so ’n boek kwansuis ’n topverkoper gaan word onder avontuurmotorfietsryers, selfs onder dié wat net daaroor droom om ’n ordentlike motorfiets aan te skaf. Eers wou ek nie aan die idee byt nie. Wie gee werklik om oor wat ek ná sestig op ons paaie beleef het? Oor hoe ek myself dikwels uit moeilikheid moes dink, bid en praat? Maar die druk deur my vriende het toegeneem en my besware het afgeneem. En hier hou ek uiteindelik my boek vas wat ons almal gaan help onthou.”
Hy sal altyd dankbaar wees vir die nuwe mense wat hy langs die paaie ontmoet het, vir die vreemde plekke wat hy gesien het en vir die lesse in samewerking, saamstaan en spanwerk, het Coetzee bygevoeg.
Vir meer inligting, skryf aan leon@coebergh.co.za
Leon Coetzee, saam met sy dogters Clarisse Coetzee (links) en Cisca Coetzee. Foto: Marlene Malan
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’