OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen drie mans van Bridgton, wat van roof met verswarende omstandighede aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof, na die slotbetoë van die staat en die verdediging, vir uitspraak uitgestel.
Byron Olifant (25), Sheldon Hoogaardt (21) en Charlton Campher (21) word daarvan aangekla dat hulle helder oordag, op 28 Julie 2021, vir Shirfano Adolf naby die Bridgton-sporterrein, alombekend as ‘Die Plate’, geskop, geslaan, met ‘n mes gesteek en van drie selfone beroof het.
Die staat voer aan dat hulle met ‘n gemeenskaplike doel opgetree het. Al drie pleit onskuldig.
Marshall Hendricks, ‘n ooggetuie, het getuig dat hy ses mans oor die pad sien kom het en gesien het hoedat Adolf aangerand word. Hy het gesien hoe Olifant ‘n mes uithaal en Adolf daarmee steek, waarna hy glo na ‘n kafee gestap het en ook sy meisie se broer wou steek.
“Die vrou van die winkel het hom gekeer,” het Hendricks getuig. Die derde beskuldigde, Charlton Campher, het Dinsdag getuig dat dit die klaer was wat ‘n mes gehad en Olifant daarmee gejaag het.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, versoek die hof om die beskuldigdes se weergawes te verwerp en skuldig te bevind, terwyl hul regsverteenwoordiger, Cindy Murray-Smith, aanvoer dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het verrigtinge vir uitspraak tot 11 Mei uitgestel.
Olifant bly in aanhouding terwyl Hoogaardt en Campher op borgtog uit is.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’