OUDTSHOORN NUUS - Dylan Dreyer, seun van die ontslape dr. Nolan Dreyer, het in sy legendariese pa se voetspore gevolg en gr. 12 met 'n A-gemiddelde simbool geslaag, 'n indrukwekkende 92,71% om presies te wees.
In die proses het Dylan altesaam agt A-simbole insluitend 100% slaagsyfer vir besigheidstudies behaal.
Dr. Dreyer het self in 1989 geskiedenis gemaak toe hy ook destyds Bridgton Sekondêr se topstudent en van die skool se eerste A-kandidate ooit was.
"My pa was my rolmodel, ek het my inspirasie daaruit geput, en dus het ek alles in die stryd gewerp om ook soos hy te presteer. As jong seun het hy my alreeds verskillende strategieë geleer wat ek hierdie jaar kon toepas, veral in wiskunde. Hy het my ook geleer om altyd my beste te probeer en slegs teen myself te kompeteer en nie teen ander nie, want dan verloor jy fokus, het hy altyd gesê. Sy hardwerkende werketiek sal my altyd by bly, want hy het tot op die laaste sy werk met passie en oorgawe gedoen," vertel Dylan.
Volgens Dylan beoog hy om vanjaar BRek aan die Universiteit van Stellenbosch te studeer.
Hy bevestig wat die breë gemeenskap reeds weet, en dit is dat die pad om hierdie magiese prestasie te bereik, glad nie vir hom maklik was nie.
"Gedurende die Covid-pandemie in 2020 het ek my pa verloor wat geweldig traumaties was. Boonop het ek hierdie jaar vir die tweede keer Covid opgedoen en om alles te kroon, is ek twee weke voor die eksamen met tipe 1-diabetes gediagnoseer. Dit was totaal onverwags en ek was redelik siek. Ek moes selfs afstand doen van my posisie in die eerstehokkiespan en dit het my heeltemal van stryk gebring, maar danksy my ma, suster, dokters en onderwysers het ek my fokus weer herwin."
Dylan bedank sy ma (Cindy), suster (Vanya), dokter, onderwysers sowel as sy vriende vir al hul ondersteuning en aanmoediging. Hy het ook 'n spesiale woord van dank vir sy besigheidstudie-onderwyser en ook Desiree Mccallum (mentoropvoeder) vir al haar moeite, aanmoediging en vertroue in hom waarsonder hy, volgens hom, nie sy uitstekende punte kon behaal het nie.
Sy boodskap aan leerders van Hoërskool Oudtshoorn is dat dit nie saak maak watter struikelblokke oor jou pad kom nie, probeer om altyd die silwer rand in die donker wolk raak te sien.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'