OUDTSHOORN NUUS - Vanaf 1 Oktober staan De Rust Primêr onder die leiding van hul nuwe skoolhoof, Luzaan Fillis,'n toegewyde opvoeder met 'n passie vir plattelandse onderwys en 'n diep verbintenis tot die ontwikkeling van kinders.
Fillis het aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) gestudeer en in 2014 sy loopbaan as onderwyser in die Oos-Kaap begin.
Daarna het hy sy pad na Murraysburg gevind, waar hy vir verskeie jare klas gegee het en ongeveer vyf jaar departementshoof was.
Hy het ook later vir 'n rukkie as waarnemende onderhoof diens gedoen. In 2021 het hy 'n nuwe uitdaging aanvaar toe hy as vakadviseur in Paarl, in die Weskus-onderwysdistrik, aangestel is.
Hoewel Fillis geen familie- of gemeen-skapsbande in die Karoo het nie, sê hy dat sy aanstelling by De Rust Primêr vir hom soos 'n droom is wat waar geword het.
"Ek het as kind in die straat saam met my maatjies skool-skool gespeel. Ek wou nog altyd 'n onderwyser wees. Nou is ek op die platteland, presies waar ek altyd wou wees."
Vir Fillis is onderwys en hoofskap nie 'n posisie van gesag nie, maar een van diens.
"Ek is hier vir die kinders. Alles wat ons doen, moet in húlle belang wees. As iets nie in hulle guns is nie, gaan dit eenvoudig nie gebeur nie."
Hy beklemtoon dat die welstand van sy personeel vir hom net so belangrik is as dié van die leerders.
"Ons weet skole het groot klasse en dat onderwysers onder geweldige druk werk. Niemand kan uit 'n leë beker gooi nie. Ek glo dus dat gelukkige, gesonde onderwysers noodsaaklik is vir suksesvolle kinders."
Volgens Fillis het hy reeds groot potensiaal in De Rust Primêr se leerlinge en personeel raakgesien.
"Ons kan net groei as ons kinders blootstel aan die wêreld buite die dorp, of dit nou deur kuns, musiek, geskiedenis of ander ervarings is. Leer vind nie net in die klaskamer plaas nie, dit gebeur wanneer jy sien, ervaar en voel."
Hy beplan ook om self in die klaskamer betrokke te wees om sy onderwysers se werkdruk te verlig.
"Ek glo 'n leier moet bereid wees om saam met sy span te werk. Ek is nie net hier om te bestuur nie, maar om deel te wees van die span."
Met sy positiewe ingesteldheid, praktiese ervaring en passie vir mense, is Fillis vasbeslote om 'n betekenisvolle verskil by De Rust Primêr te maak.
"Ek hoop om hierdie skool en elke kind wat deur sy deure stap, tot die beste van my vermoë te dien."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’