DE RUST NUUS - De Rust is Sondagaand aangewys as die Wes-Kaapse finalis vir die immer gewilde Kwêla Dorp van die Jaar-kompetisie.
Dié sprokiesmooi dorpie is in die hart van die Klein-Karoo teen die voet van die Swartberge geleë. De Rust is ook bekend vir die kronkelende Meiringspoortpas wat die Groot- en Klein-Karoo met mekaar verbind en het in 2011 die Rapport/Kwêla 2011 Dorp van die Jaar gewen.
Volgens Corleen Barnard, bestuurder van die Oudtshoorn- en De Rust-toerismeburo, is dit 'n groot voorreg vir enige dorp om vir 'n tweede keer so ver in dié kompetisie te kom.
"Om die titel te wen is nie net tot voordeel van De Rust nie, maar die hele Groter Oudtshoorn. Dit is ook nie net die besighede wat hierby baat nie, maar elke inwoner van die dorp en ook die omliggende dorpe. Die reklame wat hiermee gepaardgaan is reeds 'n geweldige voordeel. Ons sien uit daarna om te sien wie die ander dorpe is teen wie ons gaan meeding," het sy gesê.
So sê die inwoners
Werner Alberts, eienaar van De Rust Hotel en lid van die De Rust-komitee sê inwoners is in ekstase oor die nuus en is hulle behoorlik gerat om die titel weer te wen.
"Toe De Rust in 2011 gewen het, het dit ons dorp en inwoners bietjie opgehef. Mense was trots en het moeite gedoen om die dorp te laat mooi lyk. Hulle het ge-investeer in die dorp. Die eiendomspryse het gestyg en nuwe besighede het oopgemaak. Ons het toeriste van oral ontvang. Toe kom Covid. Dit het nie net ons dorp nie, maar die hele land lam gelê en eens florerende besighede moes skielik toemaak. Hierdie is die perfekte geleenthede om De Rust weer die hupstoot te gee wat hy nodig het."
Volgens Alberts hoop hulle om van De Rust 'n bestemmingsdorp te maak, en nie net bloot 'n deurry-dorpie nie.
"As die dorp besig is, gaan die besighede goed doen. Ons dorp kry nou vir die eerste keer na Covid weer bietjie momentum met nuwe winkeltjies en restaurante wat oopmaak. Ons is eenvoudig net hemel op aarde en beskik oor al die kwaliteite wat van ons die Dorp van die Jaar kan maak. Ons het die berge en die poort. Perdry, gastehuise, enigiets waaraan jy kan dink."
Alberts sê ook dat hulle tans met 12 projekte in Blomnek besig is.
"Indien ons sou wen, sou ons die geld wat ons kry daar wou aanwend. Die idee is om De Rust 'n veilige toerismedorp te maak en sosio-ekonomiese probleme aan te spreek. Dit is ook waarom ons die De Rust Koktyls-kalender gemaak het. Die fondse wat daarmee geïn word, gaan in ons kleinkas vir daardie projekte."
Pryse op die spel
Kwêla sal 'n insetsel oor elk van die nege dorpe wat die eindronde gehaal het verfilm en wanneer al nege dorpe op Kwêla bekend gemaak is, sal die publiek van 14 Julie om 19:00 tot 19 Julie om 12:00 vir die finale wendorp kan stem.
Die wendorp word op 28 Julie 2024 op Kwêla aangekondig en wen dan die Dorp van die Jaar-titel, sowel as 'n ongelooflike R1 miljoen se bemarkingswaarde van KykNET.
Homebrew Films, die vervaardigers van Kwêla, sal 'n 45 sekonde advertensie oor die dorp maak, wat gedurende kykNET se advertensietyd uitgesaai sal word. Daar sal ook 'n groot opskop in die wendorp gehou word – musiek, kos, pret en sommer baie van daardie wendorp-gees! Kwêla sal die wendorp besoek om die opskop te verfilm. Dit sal later die jaar uitgesaai word.
Lottoland het ook 'n verrassing vir die wendorp, wat aangekondig sal word. Hulle skenk ook in hulle eie hoedanigheid 'n R1 miljoen kontantprys vir die dorp om in hul dorp terug te ploeg en wat deur hulle ge-oudit sal word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’