PRINS ALBERT NUUS - Die besluit van die burgemeester van Prins Albert, Goliat Lottering, om sy samewerking met die DA op te skort en hom eerder by die ANC te skaar, het vining uitgebrei na die Sentraal-Karoo-distriksmunisipaliteit (SKDM) waar die DA ook in koalisie is met klein plaslike partye.
Dit het daartoe gelei dat dr Annelie Rabie, die DA-burgemeester van SKDM, hierdie week uit haar pos geskop is.
Die DA se koalisievennote in die gebied (Karoo-Gemeenskapsparty, Karoo-Ontwikkelingsparty en Karoo Development Forum – KGP, KOP en KDF) het almal hul samewerking met die DA verbreek en besluit hulle verkies die ANC as hul toekomstige alliansievennoot.
Isak Windvogel (KGP), wat tot nou as SKDM-speaker gedien het, is die nuwe streeksburgemeester.
Die SKDM sluit Beaufort-Wes, Laingsburg en Prins Albert in.
Luidens ’n verklaring van die DA het dié verhouding onhoudbaar geword weens die DA se geen-toleransie-benadering tot korrupsie en dié party se strewe om die administrasie van die streeksraad van korrupsie te suiwer, sê Daylin Mitchell, kiesafdelingshoof, Beaufort-Wes. “Ons wil graag sien dat meer geld by die kiesers uitkom, en nie in die sakke van ’n paar mense met politieke bande beland nie."
Volgens Mitchell het die SKDM op 14 Augustus verlede jaar ingestem om ondersoek in te stel na die LGSETA-projek (plaaslikebestuur-SETA) – algemeen bekend as die Africa Creek-projek – ter waarde van R12 miljoen.
"Dit kom ná ’n besluit van die Wes-Kaapse Regering om die kwessie te ondersoek – kragtens afdeling 106 van die munisipale stelselswet – nadat ’n fluitjieblaser inligting aan die regering verskaf het.”
Die Africa Creek-verslag is op 8 Mei 2020 aan burgemeester Rabie gestuur. Sy het ’n afskrif hiervan twee dae later informeel aan speaker Windvogel verskaf.
Weens die isolasiemaatreëls kon Rabie die verslag egter nie voor die raad laat dien nie. ’n Verslag van dié aard sou normaalweg aan die munisipale bestuurder oorhandig word, maar aangesien die munisipale bestuurder in die verslag genoem word en aan die raad verslag doen, is dit direk aan die burgemeester verskaf.
“Sedert die verslapping van die isolasieregulasies oor raadsvergaderings het speaker Windvogel herhaaldelik geweier om burgemeester Rabie toe te laat om die verslag voor die raad te laat dien. Daarom het die DA die Wes-Kaapse minister van plaaslike bestuur, Anton Bredell, gevra dat Windvogel – wat as burgemeester aangewys is – nou die forensiese verslag laat dien. Sou hy dit nié doen nie, het die DA geen ander opsie nie as om die hof te nader."
Na verwagting gaan die burgemeester van Prins Albert, Goliat Lottering (KGP) op ’n spesiale raadsvergadering in Prins Albert Vrydag ook sý vier jaar lange vennootskap met die DA verbreek.
Na verneem word, beplan hy om die speaker, Stoffel Botes (DA), en onderburgemeester, Linda Jaquet (DA), te vervang met Elsabé Maans (ANC) en Suzanne Piedt (ANC).
Lottering sou die afgelope Maandag reageer het op navrae, maar het intussen aan Oudtshoorn Courant gesê hy sal Vrydag volledig op vrae wat die koerant verlede week aan hom gestuur het, antwoord.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Karoo nuus'