OUDTSHOORN NUUS - Die Buffalo Rally wat verlede jaar in August in Hartenbos aangebied is, was waarskynlik die einde van een van die land se mees gewilde motorfietssaamtrekke.
Luderick Jacoby, van die Nomads motorfietsklub wat die afgelope 30 Buffs gereël het, tree af. Indien niemand die reëlings by hom oorneem nie, was verlede jaar se 45ste Buffalo Rally die laaste een. Dié saamtrek was 'n jaarlikse geleentheid van die Nomads, 'n motorfietsklub wat in 1966 begin is.
Die gedagte van 'n nasionale motorfietssaamtrek het in 1969 ontstaan toe 17 lede van die Nomads tydens Paanaweek by Silversands naby Robertson gekamp het. Die name van die "vergadering" se lede is op 'n papierbord geskryf om as register te dien.
Die heel eerste Bufflo Rally het dieselfde jaar van 30 Augustus tot 1 September in Bathurst in die Oos-Kaap plaasgevind en is deur 250 motorfietsryers bygewoon.
Die byeenkoms het sedertdien in Bathurst, Aliwal Noord, Maseru, Bloemfontein, Oudtshoorn, Port Elizabeth, Mosselbaai en Hartenbosplaasgevind. Die Buffalo Rally wat in 1984 weer in Port Elizabeth sou plaasvind, is afgestel omdat die stadsraad nie die Humewood Karavaanpark beskikbaar wou stel nie en ook as gevolg van veiligheidswetgewing van die destydse regering wat in daardie jaar alle opelug byeenkomste verbied het. Vir die volgende nege jaar was daar geen Buffalo Rally nie.
In 1992 het die Nomads besluit om die saamtrek weer op die been te bring en onder leiding van Luderick Jacoby en Mark Schreiber is die Buff daardie jaar in Oudtshoorn aangebied.
Vir Jacoby was die Buffalo Rallies wat in Mosselbaai aangebied was, die mees suksesvolle saamtrekke van almal. In 2006, 2007 en 2009 het was die bywoning onderskeidelik 6 850, 7 091 en 7 030.
Die reëlings van so 'n saamtrek is vrywillig sonder vergoeding en neem byna 'n hele jaar. Na 30 saamtrekke het Jacoby besluit om die tuig neer te lê. " After having organised 30 Buffalo Rallies, I consider it is time I take a break. Any member of the Nomads Motorcycle Club who is willing to take on the challenge voluntarily and without payment, driven by a genuine passion for motorcycling and the camaraderie that comes with organising an event of this nature, is welcome to come forward,” het hy verlede week gesê.
As daar egter geen lede van die klub is wat vir die uitdaging kans sien nie, was die 45te Buffalo Rally die laaste een van 'n era.
Luderick Jacoby kan telefonies by 082 559 7729 of per e-pos by [email protected] bereik word indien meer inligting verlang word.