OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen twee broers van Oudtshoorn wat aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind en gevonnis moet word, is weer verlede week in die Oudtshoorn-streekhof uitgestel.
Dié keer omdat hul regsverteenwoordiger nie by die hof kon wees nie.
Terrance en Clint Draai is daaraan skuldig bevind dat hulle 'n man met 'n mes gedreig en van 'n vetkoek, selfoon, R20 kontant en sy ID beroof het.
Clint het ontken dat hy op die toneel was en eers in die hof van die beweerde voorval gehoor het. Hy dien tans 'n vonnis van ses jaar uit vir 'n ander misdaad.
Terrance het op sy beurt beswaar teen hofprosedure tydens die uitspraak gemaak waarna die saak na die hooggeregshof verwys is vir hersiening.
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni en is Dinsdag tot 2 Desember uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'