OUDTSHOORN NUUS - In 'n poging om die CP Nel-museum 'n aktiewe bewaarder van kuns, kultuur en erfenis te maak word daar tans gewerk aan 'n opvoedingsprogram.
Carla Ferreira, museumassistent verduidelik dat dit een van die maniere is waarop die museum 'n lewendige en betrokke gemeenskap wil bou deur die CP Nel-museum Broeiselprojek.
"Die speelse naam erken een van Oudtshoorn se belangrikste bedrywe, asook een van die museum se sentrale uitstallings. Die museum behoort aan die hele gemeenskap en almal is welkom.
Ons is besig om weer die museum op te bou om 'n aktiewe deel van die gemeenskap te wees. Ons ag die Broeiselprojek as 'n belangrike stap in hierdie rigting en sien uit om weer kinders en hul ouers in die gebou te verwelkom."
Weeklikse leesprogram
Die CP Nel-broeiselprojek is 'n weeklikse lees- en kunsprogram vir kinders by die museum se volstruiskamer. Dit vind plaas op Woensdae van 09:30 tot 10:30. Afgetrede onderwyskenners bied elke sessie aan, met 'n leesgedeelte gevolg deur 'n interaktiewe aktiwiteit soos kuns, dans of musiek. Die program wissel tussen Afrikaans en Engels en fokus in Oktober op lente. Spesiale ekstra sessies word gedurende die komende skoolvakansie aangebied.
Kom kuier in Oktober
- Maandag 6 Oktober - eerste skoolvakansiesessie, 09:30 tot 10:30.
- Woensdag 8 Oktober - 09:30 tot 10:30
- Vrydag 10 Oktober - 09:30 tot 10:30.
Koffie sal beskikbaar wees. Besoekers is welkom om piekniekkomberse en -mandjies saam te bring en na die tyd 'n piekniek op die museum se grasperk te geniet.
Vir navrae kontak Carla Fererra by nozi@cpnelmuseum.org.za of op 083 319 9104.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’