OUDTSHOORN NUUS - 'n Brand wat gisteraand, Vrydag 29 Desember, in Asterhof, Bridgton uitgebreek het, het etlike families van die omgewing haweloos gelaat, met beide die plaaslike- en weermagbrandweer wat na die toneel geroep os om die vlamme onder beheer te bring.
Alhoewel Oudtshoorn Courant eers vandag, Saterdag 30 Desember, ingelig is oor die brand, het die nuus vinnig op sosiale media versprei.
'n Inwoner van die omgewing wie so twee strate weg vanaf die brand bly, het vertel hoe vlamme omstreeks in die omgewing van 23:00 die aand bo huise begin uitsteek het.
"Ons het die brandweer gehoor en gaan uitkyk by die deur, toe kon ons vlamme bo die huise sien, want ons bly op 'n heuweltjie wat uitkyk oor die area," het hy vertel. Die man, wie se identiteit aan Oudtshoorn Courant bekend is, het verkies om anoniem te bly.
Volgens hom het 11 "hokke" afgebrand, wat om en by 17 grootmense en 9 kinders gehuisves het.
Net van die nagevolge van die Asterhof-brand. Foto: Facebook
"Mense probeer nou self skoonmaak, maar die munisipaliteit het ingekom om te help skoonmaak. Daar is niks te redde nie," het die man bygevoeg.
Volgens die inwoner was raadslid Joey Canary ook betrokke daarin om hulp te verleen.
Inwoners wat hul besittings verloor het, het hulself na sosiale media gewend om om hulp te vra na die verwoestende brand.
Navrae is aan beide die Oudtshoorn-munisipaliteit en Oudtshoorn-polisie gestuur rakende die insident. Sodra verdere inligting bekend raak, sal Oudtshoorn Courant dit met lesers deel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’