OUDTSHOORN NUUS - Die angswekkende hulpkrete van Johnathan Nathang (54), wat die afgelope naweek in sy huis doodgebrand het, is iets wat sy swaer Enver Kennedy nooit sal vergeet nie.
Die voorval het Sondagaand, 5 Augustus, in Springbokweg gebeur.
Kennedy sê hy, sy seun John en sy skoonsuster Sebiena Nathang, het Sondagaand langs die huis gebraai toe die voorval gebeur het.
"Johnathan het in sy kamer gelê. My seun het op 'n stadium gesê hy ruik iets snaaks en toe hy gaan ondersoek instel het hy agtergekom die huis brand."
Volgens hom het John probeer om by die huis in te kom, maar die vlamme was oral.
"Die brand het in Johnathan se kamer begin. Hy is 'n epilepsielyer en ons vermoed dat hy dalk 'n aanval gekry het en die kers in sy kamer omgestamp het toe hy van die bed afgeval het. Met die aanval het hy teen die kas geval en dit is ook waar ons sy liggaam gekry het."
Kennedy sê hulle het met alles in hulle probeer om sy swaer te red.
"Ons het hom hoor skree en daar is niks wat ons vir hom kon doen nie. Daar was eenvoudig net te veel vlamme. Ek sal nooit vergeet hoe hy geskree het nie."
Sebiena Nathang, Enver Kennedy, John Kennedy en Elizabeth America in die huis waar Johnathan Nathang doodgebrand het.
Nathang se suster Sebiena sê hulle huis het baie skade na die brand opgedoen.
"Alles in my broer se kamer is vernietig en ons het van ons goed, soos meubels en klere, ook in die brand verloor. Ons wil graag die naweek die mense vir die begrafnis by ons huis ontvang. Ons weet egter nie hoe ons die huis betyds reg gaan kry nie."
Johnathan laat sy saamleefmaat, Elizabeth America, en susters agter.
Hy word Saterdag 09:00 vanuit die PPK begrawe.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'