OUDTSHOORN NUUS - ’n Braaibroodjiedag, wat vier jaar gelede as ’n pretdag by die De Rust Hotel begin is, het nou ’n jaarlikse instelling ten bate van liefdadigheid geword.
Vanjaar se braaibroodjiedag het verlede Saterdag 7 Maart by die hotel plaasgevind.
Volgens Werner Alberts, mede-eienaar van die hotel, het 13 spanne Saterdag meegeding om te bepaal wie die kroon vir die beste braaibroodjie sal dra.
Geld wat tydens die dag ingesamel is, word aan Pediatric Care Africa (PCA) geskenk wat gratis mediese dienste en operasies aan behoeftiges voorsien.
Dr. André Hattingh en sy vrou Joyce Crompvoets van De Rust, het PCA gestig en met hulle onlangse projek, waartydens Hattingh 7 000 km per motorfiets afgelê het, is R130 000 vir ’n noodsaaklike breinoperasie op ’n baba van Nelspruit ingesamel.
Alberts sê hulle het die braaibroodjiedag vier jaar gelede begin nadat hy en sy vrou die hotel, wat vir jare gesluit was, oorgeneem het “sommer net om iets lekkers vir die dorp te reël” en sedertdien het dit ’n instelling geword.
Behalwe vir die titel van braaibroodjiekampioen was daar ook afdelings vir die braafste braaibroodjie, die span met die meeste gees, beste tradisionele braaibroodjie en die mees kreatiewe braaibroodjie.
En die wenners:
Die braaibroodjiekonings van die dag was die Braaidollas - Christine le Roux en Dolla Bruce.
Die braafste braaibroodjie is voorgesit deur Oudtshoorn-speurtak se Wilfred Apollis en sy spanmaat Leijton.
Kiepie en Kandas (Timo en Amelia van der Nest) het die geesbeker ontvang.
Jan en Theresa Venter het die kreatiefste braaibroodjie voorberei.
Marietjie Stander en Monja Nortje het met hulle fokus op ’n kaasvulsel weggestap met die titel van beste tradisionele braaibroodjie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’