Update
OUDTSHOORN NUUS - Kamanassie is skielik leeg en dit sal nooit weer dieselfde wees sonder ons kinders nie.
Dit was die woorde van Alfred Kerspuy, die pa van Sidwell Kerspuy (25) wat die afgelope naweek saam met twee ander persone in 'n ongeluk op die Kamanassie-/ Rooiheuwelpad gesterf het. Die ongeluk het ongeveer 02:50 gebeur.
Een van die oorledenes was onder die voertuig vasgekeer. Inwoners van die Kamanassie-/ Rooiheuwel-omgewing het nooddienswerkers gehelp om die motor op sy wiele te draai met behulp van 'n trekker.
Sidwell, Nicolene Pedro (34) en Leon Makena (30) het Vrydagaand die plaaswerker van die jaar funksie bygewoon en was op pad terug huis toe, toe die bestuurder van die voertuig beheer oor die motor verloor het.
Die voertuig het die pad verlaat en gerol en op sy dak te lande gekom. Nicolene en Leon is op die toneel dood verklaar. Sidwell het later aan sy beserings in die George-hospitaal beswyk. Sidwell se vrou, Mona, was ook in die voertuig, maar sy het die ongeluk oorleef.
Kerspuy sê al drie die oorledenes was soos sy eie kinders.
"Hulle het voor my groot geword. Dit was goeie, hardwerkende jongmense waarvoor almal altyd gelag het. Hulle was regte grapjasse. Ek gaan nie net my eie kind mis nie. Ek gaan elkeen van hulle mis."
Kerspuy sê Sidwell was sy jongste kind en hy het hom daagliks verwonder aan sy seun se groot drome.
"Hy het groot idees en groot drome gehad. Hy wou dit maak in die lewe. Donderdagaand by die huis het hy oudergewoonte gesit en grappies maak. Hy het na my plaaswerkerstoekenning gekyk en trots gesê hy gaan sy toekenning reg langs myne kom hang."
Boere in die omgewing het paramedici gehelp om die motor op sy wiele te keer met behulp van 'n trekker.
Hy sê hy het self jare vir Saag Jonker-groep gewerk en na sy uittrede het sy seun sy plek oorgeneem.
"Ek was geweldig trots. Hy was hardwerkend, 'n goeie man vir sy vrou en 'n fantastiese pa vir sy kind."
Kerspuy sê Sidwell se vrou is aanvanklik George-hospitaal toe oorgeplaas, maar het terwille van haar kind teruggekom Oudtshoorn toe.
"Hy is net vier jaar oud. Mona het 'n nekbesering opgedoen en ons bring haar in dorp toe sodat die dokter opvolgonder-soeke kan doen. Emosioneel gaan dit glad nie goed met haar nie."
Sidwell Kerspuy. Foto: Tisha Steyn
Nicolene Pedro
Nicolene se ma, Nellie Pedro, sê haar kind was die broodwinner in die huis.
"Sy is die ma van drie kinders. Twee dogtertjies en 'n seuntjie. Elke keer as ek na hulle kyk sal ek haar onthou. My kleinkinders gaan nou sonder 'n ma grootword en dit is vreeslik swaar om te verwerk."
Pedro sê sy het heelaand vir haar dogter gewag.
"Ek kon nie slaap voor sy nie by die huis is nie. Ek het die sirenes gehoor en die gekleurde ligte gesien en geweet iets groot is fout. Ek het oor die agterdeur gestaan en kyk toe 'n man my kom sê het dat hy slegte tyding het. Ek het geweet dit gaan oor my dogter."
Sy sê haar dogter het jare vir die Saag Jonker-groep gewerk en het die laaste paar jaar in die kuikenhuis gewerk waar sy gehelp het om kuikens groot te maak.
"My kind was 'n grapjas, verantwoordelik en hardwerkend. Sy het als uit haar hart uit vir haar kinders gedoen."
Die oorledenes se familie is van links: Nellie Pedro, Riana Makena en Alfred Kerspuy. Foto: Liezl van Niekerk
Leon se vrou, Riana Makena, sê haar man en twee kinders was haar hele lewe.
"Hy het my kom groet voor hy na die funksie gegaan het. Hy het nog nooit vir my so mooi gelyk soos Vrydagaand nie. Ek het dit vir hom gesê. Hy het my 'n laaste soentjie gegee en is by die deur uit. Ek sou nooit kon dink dat dit die laaste keer sal wees wat ek hom soen nie."
Sy sê haar man het saam met Nicolene in die kuikenhuis gewerk.
"Hy was nie genomineer nie, maar het haar vergesel omdat hulle al jare saam werk. Hy was geweldig hardwerkend. Hy het vir alles in die huis gesorg. As daar iets nie was nie het hy gesorg dat dit in die huis is. Hy was ons staatmaker en steunpilaar. Ek weet nie hoe ons oor die weg gaan kom sonder hom nie."
Jonita Jonker, die Saag Jonker-groep se gemeenskapswerker, het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat dié drie werknemers 'n geweldige leemte los.
"Hulle was uiters spesiale jongmense. Hulle was werklik staatmakers en baie hardwerkend en het dit wat hulle gedoen het met oorgawe gedoen. Hulle sal definitief gemis word."
Leon Makena
Nicolene en Leon word komende Saterdag saam begrawe.
Die begrafnis sal 10:00 by hul onderskeie wonings in Kamanassie begin en is 11:00 by die Saag Jonker-gemeenskapsentrum.
Sidwell word op 8 September begrawe om Mona geleentheid te gee om te herstel.
Sy begrafnis begin 10:00 by die huis en is 11:00 by die Kong-kerk in Kamanassie.
Lees 'n vorige artikel hier: Derde persoon sterf na botsing
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'