OUDTSHOORN NUUS - Borgtog van R500 is in die Oudtshoorn-distrikshof toegestaan aan ‘n man van Rose Valley, Oudtshoorn, wat sy vrou drie keer met ‘n mes gesteek het en aangekla word van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Rooi se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, het die hof vir sy vrylating gevra omdat hy nie ‘n gewelddadige persoon is nie en hy die betrokke aand onder die invloed van alkohol was.
Hy het ook ‘n alternatiewe adres waar hy sal kan woon.
Die hof moet ook in ag neem dat die klaer die saak wou terugtrek en nie vir haar man kwaad is nie.
Die staatsaanklaer Keith Dyssel, het gesê dat die vrou sonder rede gesteek is en twee keer met die dood gedreig is.
Landdros Graehymme Williams het in sy uitspraak ten spyte van die feit dat die vrou nie daarvoor aansoek gedoen het nie, weens die erns van die klagte, ‘n beskermingsbevel teen die beskuldigde uitgereik.
Hy mag nie nader as 50 m van die woning van die vrou kom nie. Hy mag ook nie kontak met haar maak, en ook nie sy drie minderjarige kinders teister, dreig of probeer intimideer nie.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 24 Oktober uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'