OUDTSHOORN NUUS - Uitspraak word vandag (Donderdag, 1 Februarie) in die Oudtshoorn-landdroshof gelewer in die borgtog-aansoek van 'n 46-jarige man van Oudtshoorn wat van verkragting van 'n 15-jarige meisie aangekla word.
Volgens die ondersoekbeampte, ao. Michael de Kock, het die verdagte, 'n pa van drie kinders, die klaer die aand van 18 Januarie in sy motor gelaai en gesê dat hy oor 'n video van haar en haar kêrel beskik waar hulle glo seksueel verkeer.
Hy het gedreig dat hy dit aan haar pa sou wys, maar sal uitwis indien hy met haar geslagsgemeenskap kan hê.
Sy het geweier en toe sy wou uitklim het hy haar glo gegryp, gesoen en haar seksueel aangerand. Die staatsaanklaer, Zelda Jass, staan borgtog teen omdat die verdagte teregstaan op 'n ernstige misdryf teenoor 'n minderjarige waarvoor die wet 'n minimum vonnis voorskryf.
Die verdagte se regsverteen-woordiger, Cindy Murray-Smith, versoek die hof om wel borgtog met streng voorwaardes toe te staan omdat dit in belang van geregtigheid is. Hy het geen vorige veroordelings of ander hangende sake nie.
Die verdagte is steeds in aanhouding.
Die aansoek word deur landdros Stephanie Strydom aangehoor.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’