Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is vanoggend in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan ‘n 46-jarige pa van drie kinders wat van verkragting van ‘n 15-jarige meisie aangekla word.
Landdros Stephanie Strydom het in haar uitspraak gesê dat dit ‘n Bylae 6-borgtogaansoek is waarin die aansoeker die hof moet oortuig dat dit in belang van geregtigheid is dat borgtog aan hom toegestaan word.
Die landdros het bevind dat die beskuldigde nie ‘n goeie indruk op die hof gemaak het nie en oor sy woorde geval het. Hy het homself weerspreek en wat kommerwekkend was, is die feit dat hy ‘n bekende persoon is wat met jongmense soos die klaer werk.
Die hof het bevind dat die beskuldigde net sy persoonlike omstandighede as rede vir sy aansoek voor die hof gebring en dit nie voldoende is vir borgtog nie.
Die hof het beklemtoon dat die borgtogaansoek nie ‘n verhoorsaak is om die aansoeker skuldig of onskuldig te bevind nie. Dit is ook vreemd waarom die beskuldigde sekere inligting van iemand wou gebruik om die persoon in die moeilikheid te kry.
Volgens die ondersoekbeampte, ao. Michael de Kock, het die verdagte die klaer die aand van 18 Januarie in sy motor gelaai en gesê dat hy oor ‘n video van haar en haar kêrel beskik waar hulle glo seksueel verkeer.
Hy het gedreig dat hy dit aan haar pa sou wys, maar sal uitwis indien hy met haar geslagsgemeenskap kan hê.
“Die hof kon nie enige buitengewone omstandighede vind wat borgtog regverdig nie. Die standaard is baie hoog en die beskuldigde het nie genoeg gedoen nie,” het die landdros gesê.
Die saak is vir die voltooiing van die ondersoek tot 4 Maart uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’