CALITZDORP NUUS -Boplaas wynplaas en stokery in Calitzdorp het Woensdagaand, 22 Januarie, hul nuwe proelokaal aan genooide gaste bekendgestel.
Die drie Nel-sibbe, Rozanne, Margaux en Daniel is deel van die sesde generasie Nels in Calitzdorp wat op Boplaas boer.
Rozanne het tydens haar openings-toespraak beklemtoon dat hulle baie trots is daarop, en dat dit 'n voorreg is om as 'n familie saam te werk.
Rozanne hanteer die bemarking, Marqaux is die wynmaker terwyl Daniel meer op die spiritualieë fokus wat Whiskey, Gin en Rum insluit. Boplaas is die voorste Whiskey-produsent in Suid-Afrika.
Volgens Rozanne was die nuwe proelokaal 'n droom wat nou werklikheid geword het, en met harde werk van die argitekte, bouers en natuurlik die Nel-sibbe.
"Ek kon nie die projek gedoen het sonder ons binneversierder, Robyn van Inspired Living in George, Johan Smith Argitekte in Oudtshoorn en Henk Harmse, die bouer nie."
Sy het almal bedank wat die geleentheid bygewoon het, "Die meeste mense hier vanaand is Calitzdorpers en 'n paar Oudtshoorniete, en dra by tot die sukses van die dorp."
"Twee goed wat ek wil uitwys van die opgegradeerde proeloekaal is die geelhouttoonbank, wat uit die Jan Katz winkel hier in Calitzdorp kom. Dit is vir ons baie spesiaal. Die 'murial' agter die toonbank is spesiaal en 'n weerspieëling van Calitzdorp, en gedoen deur 'n professor in grafiese kunste by Stellenbosch Universiteit. Dit is opgeblaas en op muurpapier gedruk, en opgesit."
Die oorspronklike kunswerk hang in die boonste proelokaal.
"Wat 'n voorreg is dit om in so 'n pragtige deel van die Klein-Karoo te kan bly. Wanneer ek reis vir werk oor die land, is kliënte se terugvoering altyd: 'Julle is so gelukkig om daar te kan bly!', en dit is heeltemal waar, ons is gelukkig om hier te kan bly."
Daniel het meer gesels oor die distillering van spiritualieë
"Spiritualieë word sedert 1880 by Boplaas gedistilleer toe die eerste bestelling van potketelbrandewynvate per ossewa na Kaapstad gestuur is vir aflewering aan Londen. In daardie dae kon belasting met brandewyn betaal word.
Ná die herroeping van distilleerlisensies in die vroeë 1920's het Boplaas se koperpotketel vir byna 70 jaar dormant gelê totdat dit weer in 1989 afgevuur is, toe wetgewing verander het. Vyf jaar later, in 1994, het
Boplaas die heel eerste landgoedbrandewyn vrygestel. Dit is gedoop Boplaas 5 Year Potstill Brandewyn en bedien by die presidensiële inhuldigingsbanket van Nelson Mandela."
Buiten die gebruiklike keldertoere is daar 'n paar projekte in die pyplyn vir 2025 insluitende 'n Feesspasie, aldus Daniel.
Prestasies
Die lang geskiedenis van Boplaas word deur talle mylpale aangedui.
Om die SA Kampioen Port Trofee 10 keer te wen, asook twee titels as SA Kampioen Sauvignon Blanc, en, die SA Kampioen Rooi Versnit-trofee by die SA Jongwynskou.
Word aangewys as beste kelder by die 2019 Michelangelo International Wine & Spirits-toekennings, en by die Veritas-toekennings in 2005 sowel as beste privaat kelder by Veritas in 2009, 2011 en 2013.
MW Tim Atkin, die titel van SA se versterkte wyn van die jaar vir vier agtereenvolgende jare: 2024, 2023, 2022, en 2021 by die Suid-Afrikaanse Wynverslag.
In totaal het Boplaas 28 dubbelgoue medaljes by Veritas en 22 Platter 5-ster-graderings ontvang.
Carel Nel is 'n lid van die Kaapse Wynmakersgilde, en het die hoogste gradering vir sy 2022 CWG Auction wyn van Robert Parker's Wine Advocate in die VSA ontvang met 'n telling van 95+ punte.
Besoek www.boplaas.co.za om meer te lees oor die besondere familiebesigheid.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’