OUDTSHOORN NUUS - Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die Fugard-teater in samewerking met Eric Abraham, bring Athol Fugard se ikoniese toneelstuk, Statements After an Arrest Under the Immorality Act, na KKNK25.
'n Boorling van Oudtshoorn, die gesoute akteur Marlo Minnaar (7de Laan, Sara se Geheim, Die Boland Moorde) vertolk die hoofrol van Errol Philander met Liezl de Kock (Piet se Optelgoed, Crazy in Love, Pictures of You, African Gothic) wat Frieda Joubert speel.
Die KKNK is vanjaar 'n kwarteeu oud en dié mylpaal val saam met Suid-Afrika se 25ste viering van demokrasie. Dit is dus heel gepas dat Fugard by vanjaar se fees vir sy lewenswerk vereer word. Fugard se stuk wat in 1972 geskryf is, speel af in die apartheidsjare waar verhoudings oor die kleurgrens heen as kriminele oortredings beskou was. Twee verliefdes – 'n bruin man en 'n wit vrou - ontmoet in die geheim in die biblioteek waar sy werk.
Hier maak hulle liefde en deel hulle vrese en drome met mekaar, totdat 'n buurman die polisie oor die verhouding inlig. Die toneelstuk is 'n boeiende en hartroerende liefdesverhaal oor twee mense wat letterlik en figuurlik hulle diepste wese ontbloot en hunker na vryheid.
Daniël Galloway, die besturende direkteur van die Fugard-teater is opgewonde oor die vennootskap met die KKNK: "Om vir die eerste keer deel te wees van die KKNK en die fees se 25ste verjaarsdag te vier is 'n groot eer. Athol Fugard is 'n meester as dit kom by die waarneming van die mens se behoefte om mekaar te verstaan en ons gemeenskaplike menslikheid te ontdek. Dié temas is vandag steeds relevant."
Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk, die maatskappy wat die KKNK aanbied, ag die vennootskap en produksie as een van die groot hoogtepunte van vanjaar se kwarteeu-vieringe: "Dit is 'n groot voorreg om die stuk aan te bied, nie net as 'n klassieke werk wat 'n spesifieke tydperk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis vasvang nie, maar om ook te vier hoe ver ons land en sy mense gekom het. En terselfdertyd vier ons die tydloosheid van Fugard se werk wat uiteindelik oor menswees gaan."
Athol Fugard is in 1932 in Middelburg in die Karoo gebore. Bykans 40 toneelstukke het die afgelope 50 jaar uit dié bekroonde regisseur wat soms ook sy lyf akteur gehou het, se pen gevloei. Fugard is in 2011 beloon met 'n gesogte Tony-toekenning vir sy lewenslange bydrae tot die teater.
Dié skrywer en regisseur het vier boeke geskryf asook 'n aantal draaiboeke. Van sy bekendste toneelstukke sluit in Blood Knot, Boesman and Lena, Master Harold and the Boys en The Train Driver. Sy 1980-kortverhaal Tsotsi is deur die Suid-Afrikaner Gavin Hood gemaak en is in 2005 by die Amerikaanse filmtoekennings met 'n Oscar as beste buitelandse film beloon. Statements After an Arrest Under the Immorality Act het 'n Ouderdomsperk van 16 jaar weens naaktheid.
Kaartjies kan aanlyn by www.computicket.com of Computicket, Shoprite/Checkers en House & Home bekom word teen R135. Kaartjies is ook by die deur beskikbaar teen R150.
Laai KKNK25 se spesiale fees-app af by die Apple App Store en Google Play as KKNK25.
Met die app kan feesgangers kaartjies koop, feesbeplanning doen, toegang tot spesiale aanbiedinge kry en op datum bly met die jongste feesnuus.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'