Gallery
HEROLD NUUS - Dat boekfeeste en boekliefhebbers vir geen duiwel stuit nie, is die afgelope naweek weer bewys met die Dalene Matthee-boekefees in Herold. Ten spyte van reën, riviere, ompaaie en sonder enige elektrisiteit was die kerksaal in Herold Vrydag en Saterdag stampvol.
Darryl David, die organiseerder van die fees, het Maandag gesê sy grootste vrees verlede week was dat die weersomstandighede die fees gaan kelder.
"Daar was weerberigte wat my ernstig laat twyfel het, maar Dalene Matthee se ster het helder geskyn en die saal was vol," het David gesê.
Die Dalene Matthee-boekefees is die nuutste van tien boekfeeste wat David, 'n Afrikaanse dosent aan UWK, regoor die land aanbied.
As gevolg van 'n kragonderbreking in die hele gebied kon items soos die dokumentêre oor Matthee se lewe en verskeie PowerPoint-aanbiedinge nie plaasvind nie, en 'n klanksisteem kon nie gebruik word nie.
Ondanks dit alles, het skrywer na skrywer wat op die verhoog verskyn het, die gehoor wat Saterdag ongeveer 100 sterk was, in hul stoele gehou.
Hoogtepunte wat spesifiek op Dalene Matthee se skryfwerk gefokus het, was dié van prof. Hennie van Coller van Bloemfontein, Carina Stander, Riana Scheepers en Matthee se dogter, Hillary Matthee. Hillary het ruiterlik erken dat sy nog nie een van haar ma se boeke gelees het nie.
"Ek het 15 jaar my ma se sake behartig en ek het elke karakter en elke storielyn leer ken, ek hoef nie die boeke te gelees het nie," het sy gesê en staaltjies vertel waarvan min mense bewus was.
Sy het onder andere vertel dat haar ma 'n geesdriftige gholfspeler was en op 'n keer onder die voorwendsel dat sy en 'n vriendin vir noodsaaklike inkopies Kaap toe gaan, inderwaarheid gegaan het om aan 'n gholftoernooi deel te neem.
Haar man het niks vermoed nie, maar toe Dalene en haar vriendin die gholftoernooi wen en die prys deur Gary Player oorhandig word, was dit koerantnuus.
David en Hillary het tydens die fees 'n Outeniqua-geelhoutboom op die terrein van die Herold Meander, oorkant die kerk geplant. "Hierdie boom gaan grootword en saam met die fees groei sodat ons altyd vir Dalene Matthee kan eer," het hy gesê.
Tydens die fees was daar bykans 30 skrywers waarvan die meeste uit die Tuinroete en Klein-Karoo kom. Die verskeidenheid van genres het gewissel van gedigte tot memoirs, kinderboeke, kortverhale, reisverhale en fotografie.
David het sy eie boek, Doggone Days, oor die reise van hom en sy gesin en vyf honde regdeur die land, bekendgestel. Die splinternuwe pragboek, Klein Karoo Magic, is ook deur die egpaar Chris Marais en Julienne du Toit bekendgestel.
Hulle was teen die einde van verlede jaar in Oudtshoorn as deel van hul navorsing vir die boek.
David het na afloop van die fees gesê dit was so 'n groot sukses dat hy min gaan verander vir volgende jaar se fees. "Die sukses van die fees is te danke aan die tipe mense wat deelgeneem het en die gehoor.
Niemand het een keer gekla nie. Op naweke soos hierdie voel 'n mens ook 'n hoër teenwoordigheid en ek wil die Grootman daarbo daarvoor bedank."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’