Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse ‘Blerrie vêr fees’ het gisteraand, Woensdag 24 Desember in Panoramastraat, Toekomsrus plaasgevind met meer as 500 inwoners wat die jaar se geleentheid bygewoon het.
Buiten om Kersfees saam te vier was daar ook gratis vermaak. Plaaslike talent het tot laat gesorg vir ‘n gees van feesviering en samehorigheid. Familie en vriende het gesellig om braaivleisvure gekuier.
Soos gebruiklik is daar ‘n spesiale kersaansteek-geleentheid gehou waar inwoners van die straat in eenheid stilgeraak het.
Kersgeskenkpakkies is deur kersvader uitgedeel aan kinders van Panoramastraat wat met groot glimlagte poseer het vir fotos. Altesaam 65 kinders het geskenke ontvang en is 150 worsrolletjies en 150 lekkergoedpakkies ook uitgedeel.
Die aand het ‘n vol program van lewendige optredes deur plaaslike kunstenaars en DJ's aangebied wat gesorg het vir ‘n vrolike feesgees.
Duwayne Murphy, Margo Mc Gear en Melissa Jones, organiseerders van die fees. is baie tevrede met die verloop van die fees. “Ons doen dit vir die gemeenskap, vir ons kinders, en vir Kersfees wat ons nie moet verloor nie.”
Fotogalery: Blerrie ver fees sorg vir goeie vermaak
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’