OUDTSHOORN NUUS - Die jaarlikse ‘Blerrie vêr fees’ vind vanaand om 18:00 plaas in Panoramastraat, Toekomsrus.
Die doel van die fees is om die ware Kersfees gevoel terug te bring in die gemeenskap, aldus Duwayne Murphy en Margo Mc Gear, organiseerders van die fees.
“Hierdie jaar se fees bou op ‘n tradisie van saamstaan, hoop en feestelike vreugde. Dit is ‘n dag waarop families, kinders, bure en vriende weer hande vat om lig, liefde en die gees van Kersfees te vier.”
Feesgangers kan uitsien na ‘n vol program
Kersgeskenkpakkies vir die kinders van Panoramastraat, lewendige optredes deur plaaslike kunstenaars, plaaslike DJ's vir ‘n vrolike, energieke atmosfeer en ‘n kersaansteek-geleentheid waar die inwoners van die straat saam in eenheid kan stil raak.
Daar is braaifasiliteite, maar bring jou eie kampstoel, ‘n koelboks en kom braai saam terwyl jy luister na plaaslike talent en vermaak. Deur die loop van die aand sal daar ook pryse wees wat gewen kan word. Die vermaak is gratis en oop vir almal wat wil saamkuier.
Ten slotte noem Murphy en Mc Gear, “Ons doen dit vir die gemeenskap, vir ons kinders, en vir Kersfees wat ons nie moet verloor nie. Wanneer ons saamwerk, kan ons iets skep wat groter is as onsself, en “Die Blerrie vêr fees’ bewys dit elke jaar. Almal word van harte uitgenooi om saam te kom vier, saam te lag en saam ‘n Kersfees vol warmte, vreugde, musiek en verrassings te bou.”
Vir navrae kontak 072 449 9364.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’