Video
OUDTSHOORN NUUS EN VDIEO - Ongeveer 700 Oudtshoorniete het Saterdagnag aan Kansa se jaarlikse Relay for Life by die De Jager-sportterrein deelgeneem.
Hierdie gewilde geleentheid word jaarliks regoor die land aangebied om projekte vir Kansa se stryd teen kanker te help finansier.
Buiten die 29 spanne wat ingeskryf het, het verskeie mense ook as individue deelgeneem. Diegene met baie energie het deurnag gebly terwyl ander kaartjies gekoop het om tot om 22:00 op die terrein te wees.
Die totale bedrag wat ingesamel is, moet nog bereken word, maar teen Dinsdag was daar ongeveer R45 000 inbetaal.
Soos gewoonlik is die deurnaggeleentheid geopen met 'n ererondte van kanker-oorwinnaars waarvan 32 Saterdagaand die eerste rondte om die baan gestap het.
Een van die oorwinnaars, Denver Wessels, het tydens die luminariaseremonie vertel van sy kankerreis waarna deelnemers op hulle tyd om die baan kon stap om die luminariasakkies met brandende kerse binne-in van naderby te besigtig.
Elke sakkie is opgedra aan 'n persoon wat in stryd met kanker was en dit oorwin het, wat steeds daarteen veg sowel as diegene wat die stryd verloor het.
Volgens die organiseerders het die ligte reën wat geval het geen uitwerking op die aand gehad nie, maar ongelukkig moes die program vroeër gestaak word as gevolg van beurtkrag.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'