OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn is nie iets wat iemand vir ons gee of kan wegvat nie. Dit is iets wat jy leef, soos wat ons slagspreuk ook lui: Ek IS Oudtshoorn.
Dit was deel van die boodskap wat Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer verlede Donderdag, 26 Februarie, gebring het.
Hy het sy voosittersverslag van 2025 tydens die AJV in Die Neelsie-teater gegee en die versekering gegee dat die besigheidskamer reg is om verskeie brûe wat die afgelope vier jaar met instansies soos die munisipaliteit gebou is, ten volle te benut.
Hy het daarop gewys dat die dorp, soos talle ander dorpe, talle uitdagings het, maar dat besighede wat saamstaan 'n groot verskil kan maak.
"Ek wil dankie sê vir Oudtshoorn se besighede wat die gemeenskap dra met fondsinsamelingsprojekte, gholfdae, diensorganisasies en as daar nood is saam staan.
Oudtshoorn staan voor 'n moeilike pad, maar ons staan nog en ons is nog sterk. Ons moet toelaat dat daar reën op almal val. Kom ons gun ons buurman en ons dorp 'n goeie toekoms."
KKNK
Die AJV is deur die KKNK aangebied en Ferreira het sy opgewondenheid oor die 30ste KKNK met gaste gedeel. Hy het mense daaraan herinner dat die KKNK die heel eerste Afrikaanse fees in die land was en ook die heel eerste fees in die land is wat 'n ten volle operasionele JOC (Joint Operational Centre) by elke fees opgerig het vanwaar alle noodsituasies en veiligheidsaspekte hanteer word.
JC Aucamp, bemarkingsbestuurder van die KKNK het in sy spreekbeurt gaste gewaarsku om hulle feesgordels solank vas te maak, want volgens hom gaan vanjaar se fees vir die een opwinding na die ander sorg.
"Hierdie jaar se fees is in alle opsigte 'n mylpaal vir die KKNK. Daar lê nog 'n maand se harde werk voor, maar ons is reg."
Hy het verskeie hoogtepunte van vanjaar se feesprogram uitgelig en kaartjieverkope vir produksies is reeds 'n aanduiding van uitstekende bywoning. Talle van Suid-Afrika se voorste musiekkunstenaars is op die feesprogram en 'n feeskaartjie bied toegang tot al die opwinding op die feesterrein wat weer die tuiste van stalletjies, pret, kos en groot musiekverhoë gaan wees. Aucamp het ook die goeie nuus gedeel dat die gewilde Kaktus-musiekgebeurtenis weer terug is. Aucamp het ook gesê dat Hans van der Veen, wat oor dekades heen as fotograaf van die KKNK opgetree het en derduisende foto's geneem het, vanjaar die spesiale Kanna-toekenning ontvang vir diens aan die KKNK. Vanjaar se KKNK duur vanaf 28 Maart tot 4 April.
Bestuurslede
Tydens Donderdagaand se AJV is die besigheidskamer se bestuurslede vir 2026 ook bekendgemaak. Abri Ferreira gaan voort as voorsitter. Die ander bestuurslede is:
Donna-Lida van der Berg, Wilma Pienaar, Hennie Davel, Suné Rupping, Angelique Erasmus, Hans van der Veen, Liesl le Roux, Herman Engelbrecht, Franklin Cupido en Zac Lipschitz.