OUDTSHOORN NUUS - Klein Karoo Voetslaanklub het Vrydagaand, 23 Januarie, ’n insiggewende algemene jaarvergadering aangebied en ’n hele paar nuwe lede het aangesluit.
Die klub bestaan reeds 35 jaar en het meer as 70 ingeskrewe lede.
Die doel van die klub is om op ’n georganiseerde wyse geleenthede aan sy lede te bied om aan voetslaanaktiwiteite in die natuur deel te neem.
Dit sluit dagstappe, naweekstappe en langer stappe van drie dae of meer in, met roetes wat in moeilikheidsgraad wissel om ’n wye spektrum van lede te akkommodeer.
Vir mense wat dit geniet om tyd in die natuur deur te bring, onder die sterre te slaap, in helder waterpoele te swem en weg te breek van die gejaag en geraas van die moderne lewe, bied die klub uitstekende geleenthede om dit alles te ervaar.
Die bestuur bestaan uit: Danie Steyl (voorsitter), Cassie Coetzee (ondervoorsitter), Jolinda Viljoen (sekretaris), Wessel Steyl (tesourier), Frans Kalp (gewone bestuurslid) en Colin Young (gewone bestuurslid).
Maanlignagstap
Die eerste staptog vind plaas op 31 Januarie en 1 Februarie wanneer ’n maanligstap vanaf Ou Tol in die Swartbergpas na Bothashoek-hut en terug aangepak word.
Hierdie interessante stap in die maanlig in die Swartberge is ’n unieke ervaring. Die groep stap die Vrydagaand op die tweespoorpad tot by die Bothashoek-hut (12,5 km), slaap vir die res van die nag, en stap die volgende dag met die tweespoorpad of die kruinroete (13,5 km) terug na Ou Tol (die groep sal in twee gedeel word). Slegs 12 persone kan deelneem aan die stap.
Verdere inligting
- Voorsitter: Danie Steyl 078 469 3727 of per e-pos [email protected]
- Sekretaresse: Jolinda Viljoen 073 895 1276 of per e-pos [email protected]
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’