OUDTSHOORN NUUS - Wynand Frederik du Plessis van Oudtshoorn vier op 17 Augustus sy 94ste verjaarsdag.
Volgens sy dogter, Ronel Nel, is die hele gesin dankbaar teenoor die Here vir sy goeie gesondheid, helder verstand, besondere humorsin en sterk geloof in sy Skepper.
Volgens Nel is haar pa 'n boorling van Riversdal en die oudste van sewe kinders. Die gesin het later na Mosselbaai verhuis, waar hy sy skoolloopbaan aan Hoërskool Punt voortgesit het.
Sy eerste betrekking was by die Suid-Afrikaanse Spoorweë in Mosselbaai, waarna sy loopbaan hom na Germiston, Kempton Park en Van Dyksdrif geneem het.
Sy liefde vir die see het hom egter terug na Mosselbaai gelok. In April 1956 het hy as administratiewe klerk by BP Suid-Afrika begin werk. Dit was ook in Mosselbaai waar hy sy vrou, Issie Geldenhuys, ontmoet het.
Nel vertel dat haar pa haar ma beskryf het as "die meisie met die mooiste bene en die beste rughand in tennis op die dorp".
Die egpaar is getroud en het later na Kaapstad verhuis, waar hulle twee kinders grootgemaak het.
"My pa het ná 34 jaar diens in 1990 by BP Suid-Afrika se hoofkantoor afgetree. In 1994 het hy en my ma na Oudtshoorn verhuis, waar hulle sedertdien meer as drie dekades van 'n gelukkige aftrede geniet. My pa was in sy jonger dae 'n ywerige visserman en het 'n liefde vir die eenvoudige dinge in die lewe. Vandag geniet hy sy blokkiesraaisels, Oudtshoorn Courant, Afrikaanse gedigte, RSG en natuurprogramme op YouTube."
Die egpaar het twee kinders, drie kleinkinders en twee agterkleinkinders.
Nel sê die uitgebreide gesin kuier graag saam met oupa Wynand en vir sy 94ste verjaarsdag vier die familie nie net sy ouderdom nie, maar ook 'n lewe vol liefde, geloof, familie en vele herinneringe.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’