LADISMITH NUUS - Die woonbuurt Bergsig in Calitzdorp het onlangs tot stilstand gekom toe die gebrul van motorfietse in die strate weerklink het. Die besoek was om sesjarige Miela Benjamin, wat haar been verloor het, te ondersteun.
Die besoek is gereël deur die Wheels of Hope-groep, 'n span motorfietsryers wat vir 15 dae die land vol toer om hoop te bring aan mense wat 'n ledemaat verloor het. Sommige van die lede het self deur soortgelyke ervarings gegaan.
Volgens Dave Malherbe, een van die lede, is die groep se missie eenvoudig: om mense weer moed te gee.
"Ek het in 2016 my been verloor en weet hoe moeilik dit is om aan te beweeg. Ons wil wys dat 'n amputasie nie die einde van iemand se lewe beteken nie. Met 'n kunsbeen kan mense weer hul onafhanklikheid herwin. Ons is vandag hier om te kyk hoe ons vir Miela kan help met 'n nuwe kunsbeen of aanpassings aan haar huidige een."
Mariska Benjamin, Miela se ma, het haar diepe dankbaarheid teenoor die groep uitgespreek.
"Ek het eers op Facebook van Wheels of Hope gehoor. Hulle het my vroeër verlede jaar gekontak. Miela het tydens die Covid-pandemie haar been weens 'n bloedklont verloor. Ek moes die moeilikste besluit van my lewe neem, om tussen haar lewe en haar been te kies. Haar kunsbeen werk goed, maar soos sy groei, verg dit gereelde aanpassings wat duur is. Wheels of Hope se hulp beteken vir ons ongelooflik baie."
Benewens hul belofte om te help met Miela se kunsbeen, het die groep ook 'n geskenk aan haar oorhandig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’