MOSSELBAAI NUUS - 'n Motorwerktuigkundige van Mosselbaai wat skuldig bevind is aan die verkragting van twee meisies van onderskeidelik 13 en 14 jaar asook nog vyf seksuele misdrywe met die kinders, is op Maandag, 28 Julie in die Oudtshoorn-streekhof tot altesaam 39 jaar gevangenisstraf gevonnis.
Die 52-jarige Donald Smit, wat 47 jaar oud was toe hy die dade met die kinders gepleeg het, en volgehou het dat hy onskuldig is, was volgens die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, in 'n vertrouensposisie aangesien die kinders deur hul ouers in sy sorg gelaat was.
Smit het die twee slagoffers by 'n kerk in Mosselbaai ontmoet.
Weyers het die hof versoek om, soos deur die wet voorgeskryf lewenslange gevangenisstraf op te lê.
Streeklanddros Daniël Boks het met vonnisoplegging gesê Smith het die dade met twee jong, onskuldige en weerlose kinders gepleeg en geen berou getoon nie.
Smit het aan die einde van die verhoor met die bewering voor die hof gekom dat hy aan erektiele disfunksie lei en dus nie tot die misdrywe in staat was nie. Die hof het egter hierdie bewering verwerp.
Smith is altesaam 25 jaar tronkstraf opgelê op twee aanklagte van verkragting en nog 14 jaar op vyf ander seksuele klagtes, wat seksuele aanranding, seksuele gereedmaking en statutêre verkragting insluit.
Sewe jaar kan samelopend met van die vonnisse vir verkragting uitgedien word, wat effektiewe tronkstraf van 32 jaar beteken.
Op Woensdag, 30 Augustus het Smit se regsverteenwoordiger 'n aansoek vir verlof om teen die vonnisse te appelleer voor die hof gebring.
Smit is na 'n ondersoek deur kapt Maria Gerber van die SAPD se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe in Mosselbaai in hegtenis geneem.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB (OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT) EN LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'