OUDTSHOORN NUUS - Die paradegrond by die Oudtshoorn Infanterieskool was Vrydag 6 September vol gepak met eregaste, familie en vriende vir die uitpasering van meer as 1 700 soldate. Dit was die grootste uitpasseringsparade wat nog hier plaasgevind het.
Onder die eregaste was die burgemeester, Johan Allers, asook hooggeplaastes van die Suid-Afrikaanse weermag. Al die rekrute wat uitpasseer het, sal nou uitgeplaas word na hul onderskeie korpse.
Lt.kol. Lisa Sipriano was in gesprek met Oudtshoorn Courant oor die besondere dag.
Volgens Sipriano is die rekrute nou opgelei en gereed om die land met trots en waardigheid te dien. Sy sê die rekrute het heelwat struikelblokke in die gesig gestaar en vrese oorkom om hulself tot nuwe hoogtes te neem.
"Hulle het uitsonderlike skietkuns, merkwaardige dapperheid, leierskap en spanwerk konsekwent getoon. Die jong soldate is bekwame en selfversekerde individue. Ons salueer ons instrukteurs vir hul puik werk. Hierdie individue het die maatstaf hoog gestel."
Hulle sal nou dien in internasionale vredesmissies, humanitêre operasies en globale sekuriteitspogings. Intern sal hul die ondersteuning wees van die nasionale veiligheidsoperasies, rampbestuurreaksies en gemeenskapsontwikkeling binne die land se grense.
Hierdie ontplooiings sal ongetwyfeld hul vaardighede toets, hul vasberadenheid uitdaag en hul perspektiewe verbreed aldus Sipriano.
Volgens Sipriano is die weermag nie net 'n loopbaan nie, maar 'n manier van lewe. Haar advies aan die rekrute wat om hoë standaarde te stel en te streef om dit te oortref.
"Wees respekvol, wees verantwoordelik en wees betroubaar. Sorg vir jou medesoldate, jou toerusting en jouself. Onthou, jou gedrag reflekteer nie net op jouself nie, maar op jou eenheid, jou korps en jou land. Hou dus jou kop hoog, staan regop en maak ons trots."
Ten slotte noem sy: "Omhels die waardes van dissipline, lojaliteit en diens. Hierdie waardes sal jul lei deur die uitdagings en oorwinnings van jou militêre loopbaan en verder. Laat ons dus vorentoe marsjeer, skouer aan skouer, gebonde deur 'n gemeenskaplike doel en 'n gedeelde verbintenis tot die verdediging van ons geliefde nasie en land. Mag ons voortgaan om met eer, integriteit en onwrikbare toewyding te dien, met die wete dat ons pogings vandag sal vorm en die toekoms van toekomstige geslagte."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’