OUDTSHOORN NUUS - Altesaam 1 180 nuwe konstabels, wat die basiese polisie ontwikkeling- en opleidingsprogram aan die Oudtshoorn Polisie Akademie suksesvol voltooi het, het vanoggend, 13 Desember, tydens ’n spoggeleentheid op die terrein van die Oudtshoorn Infanterieskool uitpasseer.
Volgens die adjunk-minister van polisie, Cassel Mathale, is die groep deel van altesaam 8 616 studente wat vanjaar hul nege maande kursus aan verskeie polisie akademies regoor die land voltooi het en die week in 11 provinsies uitpasseer.
Dit is deel van SAPD se 2023-projek om 10 000 nuwe polisie rekrute te werf om by die stryd teen misdaad aan te sluit. Dit vorm deel van ‘n inisiatief in antwoord op ‘n beroep deur president Cyril Ramaphosa.
“Vandag is net die begin van julle reis in diens van die inwoners van Suid-Afrika, wit, bruin en swart. Dit is ‘n bewys dat die regering daartoe verbind is om die polisiemag te versterk en sigbaarheid van polisielede uit te brei.”
Mathale het ‘n beroep op die nuwe konstabels gedoen om ten alle tye, en veral nou met die feesseisoen op hul hoede te wees aangesien kriminele al meer aggressief word en die polisie se veiligheid van kardinale belang is.
Die nuwe konstabels sal volgens Mathale nou uitgeplaas word na verskillende polisiestasies asook die openbare orde-eenheid en ander polisie-eenhede.
Volgens hom het hulle hard gewerk en is nou gereed om alle Suid-Afrikaners te dien en te beskerm.
Hy het hulle gemaan om nie by korrupsie betrokke te raak nie en bygevoeg dat die polisie nie sal huiwer om die pragtige blou uniform te vervang met die oranje uniform van korrektiewe dienste nie.
Mathale het ten slotte sy dank uitgespreek teenoor al die instrukteurs vir die goeie werk wat hulle doen asook die honderde ouers, familielede en vriende van die nuwe konstabels vir hul ondersteuning.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'