Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Die meer as 320 miljoen ton plastiek wat per jaar vervaardig word, is besig om die wêreld te versmoor en die skokkende feit is dat meeste van die plastiek vir slegs 'n paar minute of enkele ure na aankoop gebruik word.
En dan?
Dan beland dit op rommelhope, in die veld, in riviere en uiteindelik in die see.
'n Groot gedeelte van hierdie plastiek kan nie herwin word nie, maar daar kan daarmee gebou word.
Met 'n bietjie geduld, 'n leë tweeliter plastiekbottel en soveel as vier swartsakke se plastiek kan 'n stewige plastiekbaksteen van ongeveer 600g gemaak word.
En, as Oudtshoorn saamwerk kan 20 000 sulke ekostene wat 'n allemintige 12 ton plastiek uit die veld uit sal hou, gemaak en teen R40 000 verkoop word.
Kyk 'n video hieronder:
Met finansiering van Absa as deel van hulle verbintenis tot die KKNK wil hulle 20 000 ekostene teen Maart 2020 aankoop vir 'n reusekunsporjek op die dorp. Cango Wildlife Ranch fasiliteer die projek.
Inwoners word genooi om ekostene te maak en na Cango Wildlife Ranch, Oudtshoorn-toerisme of die Ligtoring in Bridgton te neem waar R2 per baksteen betaal sal word.
Om die bakstene te maak is eenvoudig. Vou stukkies plastiek of inkopiesakke klein op, druk die lug uit en gebruik 'n stok om 'n tweeliterbottel styf te kompakteer. Skroef die prop op en siedaar, een perfekte stewige ekosteen wat omtrent 600g weeg.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'