Gallery
OUDTSHOORN NUUS - 'n Inwoner van ACVV Tuishuis, 'n tehuis vir bejaardes op Oudtshoorn, het begin om haar groen vingers in te span en die tuin van die tehuis waterwys te maak.
Volgens Marie Schmidt (83) was Tuishuis se tuin altyd hul trots, maar met voortslepende droogte en waterbeperkings raak dit al moeiliker om die plante wat voorheen daar was aan die lewe te hou.
"Ons moes van van die rose ontslae raak en ek het toe maar begin om vetplante, grondbedekkers en spekbome te plant. Wat ook fantasties werk is stompe en klippe, dit het immers geen water nodig nie," verduidelik sy.
Dit sou egter nie vir Schmidt moontlik gewees het om die tuin op haar eie in stand te hou nie.
"Ek het twee fantasiese helpers. Hans Ezani en Lewis September help so baie. Hans is ook met groen vingers gebore. Hy sê altyd vir my ons plant en die Here laat groei."
Ezani is ook 'n planteliefhebber en het die Oudtshoorn Courant met trots vertel hoe hy sy eie steggies laat groei en help om die tuin mooi te maak.
"My wenk vir 'n waterwystuin is baie geloof en hope vetplante," het hy vertel.
Foto: Liezl van Niekerk
Schmidt sê sy bied lyndansklasse in Oudtshoorn aan en vra geen inskrywingsgelde vir dit nie.
"Al wat ek vra is hulp vir ons tuin. Ek het hope steggies al so gekry en wanneer hulle 'n geldjie gee gaan dit ook vir die tuin."
Volgens haar het verskeie besighede waaronder Kleinplaas, Jaco Vorster en die Oudtshoorn-munisipaliteit al gehelp met die tuin.
Kangovalleie Landbouvereniging is reeds ‘n geruime tyd besig om Tuishuis te help. Boere het reeds bakkievragte klippe aangery waarmee Schmidt wonderwerke verrig het. Trapsuutjies-projekte het ook onlangs 'n groot hoeveelheid spekbome geskenk.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'