LADISMITH NUUS - Ouers van die Laerskool Towerkop in Ladismith, het Maandagaand 'n goeie dosis van hoe om dissipline tuis toe te pas, gekry. Quinton Adams, bekende opvoedkundige sielkundige en navorser, het sy program 'Dissipline begin by die huis' aan 'n volgepakte gemeenskapsaal verduidelik.
Adams, 'n dosent by die Universiteit Stellenbosch, het op humoristiese wyse die boodskap 'moenie met die onderwysers baklei nie' en 'armoede is ons fokus en vyand', oorgedra.
Die program wat reeds by 650 skole landwyd aangebied is, wys ouers daarop dat hulle eers hul huise in orde moet kry voordat die skole in orde gekry moet word. "Ons fokus is ekonomiese opheffing. Armoede moet uitgeroei word. Dit hou ons in verstandelike slawerny. Ons het nie plase nie maar ons het opvoeding. Geleerdheid van julle kinders sal julle vry maak van armoede," het Adams aan ouers gesê.
Die sewe boustene vir dissipline is volgens Adams: kommunikasie, respek, reëls in die huis, gesag, verantwoordelikheidsin, onderskeid tussen reg en verkeerd en omgee.
Hy het ook vir die onderwysers 'n boodskap gehad: "Julle moet die ingesteldheid van die kinders positief verander.
Julle kan nie met julle ou kennis, 'n nuwe generasie skep nie.
"Onnies moet, net soos die leerders, ook lees en kennis uitbrei. Baklei vir ons kinders en nie met hulle nie."
Adams het as die televisiepersoonlikheid, Die Shackbuilder, reeds 150 opslaanhuise sonder regeringshulp in informele nedersettings opgerig.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'