LEEFSTYLE NUUS - Eersdaags sal talle Suid-Afrikaanse tuine weer in volle blom staan met pragtige inheemse clivias wat in talle van die tuine die meeste kleur verskaf. Met ses erkende clivia-spesies, almal endemies in Suid-Afrika, kan plaaslike tuiniers na hartelus dié unieke boslelie geniet.
Die verskillende spesies is:
- C. Miniata, wat die algemeenste is en hoofsaaklik tussen Augustus tot November blom;
- C. Gardenii, wat gewoonlik tussen Mei en Julie blom.
- C. Caulescens, wat tussen September en November blom.
- C. Mirabilis, wat van Oktober tot middel November blom.
- C. Robusta, wat tussen laat Maart tot vroeg Augustus blom
- C. Nobilis, wat tussen Augustus en Januarie blom.
Behalwe vir die C. Miniata wat trompetvormige blomme het, is die res se blomme almal buisvormig. Verder vind daar ook kruisteling tussen die verskillende spesies plaas, wat die verskeidenheid in blomkleure en -vorms aansienlik vergroot.
Die volgende cliviaskou in ons omgewing is op 11 Augustus en dit is juis dan die interspesie-skou waar die minder bekende spesies ten toon gestel word, aangesien hulle vroeër as die miniatas blom. Die miniataskou sal vanjaar op 22 en 23 September gehou word. Meer inligting hieroor later.
Clivia Nobilis.
Om meer te wete te kom van dié fassinerende plant met sy unieke eienskappe wat in soveel blomvorme en -kleure, blaarlengtes en blaarkleure voorkom, kontak gerus een van die Tuinroete-cliviaklub se bestuurslede: Voorsitter Carrie Kruger 083 343 1288, ondervoorsitter Randolph Young 072 768 5688, of sekretaris Rocco Kriel 083 653 9644.
Gaan kyk gerus ook na die klub se Facebook-blad (Garden Route Clivia Club) vir meer inligting, gebeurtenisse en foto's.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'