OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-besigheidskamer het verlede Donderdagaand weereens 'n suksesvolle netwerkaand by Langenhoven Gimnasium se onder-steuningsklub aangebied.
Chris Macpherson, Oudtshoorn-burgemeester, Walter Hendriks, waarnemende munisipale bestuurder en Johan Fourie, DA-raadslid, het ook die netwerkaand bygewoon en is deur Helene Badenhorst, ondervoorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer verwelkom.
Abri Ferreira, voorsitter van die Oudtshoorn-besigheidskamer, het genoem dat dit 'n stil maand vir die besigheidskamer was en het die slegte nuus dat die inkopie-sentrum wat in Rademeyerstraat opgerig sou word, nie meer gaan realiseer nie, aan almal oorgedra.
"Daar het iets gebeur wat die somme nie heeltemal laat klop het nie, ons is baie spyt daaroor, maar ons hou moed."
Borg van die aand
Ferreira, wat ook die eienaar van Alert Patrol in Oudtshoorn is, was dié aand se borg.
"Ons word vyf jaar oud op 1 Augustus," het hy trots gesê, en bygevoeg dat Alert Partrol-sekuriteit in Oudtshoorn, DBS-sekuriteit in Danabaai, Executive-sekuriteit in Mosselbaai en Recall-sekuriteit in George vir meer as 1 000 mense werk verskaf.
"Ons verskaf werk vir so 1 000 mense en is baie trots om dit te sê; ons sou dit nie kon doen sonder ons kliënte nie."
Ferreira het ook genoem dat Alert Patrol 'n nuwe projek in Oudtshoorn van stapel gestuur het.
"Daar is tans net twee sulke privaat netwerke in die Suid-Kaap, een is in Knysna wat in werking is en een in Oudtshoorn. Kameras word direk van site af gemoniteer; hulle noem dit line of site. Die toring dek die hele Oudtshoorn en 'n groot deel van Volmoed en Dysselsdorp."
Vryburgers
Ferreira het ook genoem dat die besigheidskamer in die toekoms, tydens die netwerkaande, aan alle diensorganisasies 'n kans wil gee om in kort te kom vertel wat hulle organisasie doen.
Francois Marais, stuurman van die OudtshoornVryburgers, het vertel dat hulle 'n nasionale organisasie is en drie funksies per jaar hou om geld in te samel om die gemeenskap waar daar groot behoeftes is, te dien. Een van die Vryburgers se projekte is die Lighuis in Bongolethu, wat in 2011 gestig is.
"Die doel van die Lighuis is om kinders wat werklikwaar uit 'n geharde omgewing kom en wie se ouers nie teenwoordig is nie, na skool by die Lighuis van 'n bord kos en opvoeding te voorsien."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'