CALITZDORP NUUS - Die vonnisoplegging van ‘n vrou van Buffelsjachtfontein in die Calitzdorp-distrik, wat haar saamleefmaat met 'n kombuismes doodgesteek en aan strafbare manslag skuldig bevind is, is vir ‘n proefbeampteverslag tot later die maand uitgestel.
Katrina Conradie (38) het onskuldig gepleit op aanklag van moord omdat sy nie bedoel het om haar saamleefmaat, Willem Malgas, te dood nie.
Sy sê in 'n pleitverduideliking dat sy besig was om groente te skil toe Malgas, haar begin skel het oor kos. Volgens haar was hy dronk en het sy nie bedoel om hom te steek of dood te maak nie. Sy het wel geweet dat die mes hom kon beseer en haar optrede nie dié was van ‘n redelike persoon nie. Sy was nugter en het geweet wat sy doen.
Met die mes in haar hand het sy Malgas weggestoot en hom per ongeluk raakgesteek.
Sy het om hulp geroep en self probeer om hom te help, maar hy is op die toneel oorlede.
Sy het erken dat sy nalatig opgetree het en daarvoor gestraf moet word.
Die staatsaanklaer Brandon Smith, het vir skuldigbevinding op die klagte van moord gevra terwyl haar regsverteenwoodiger, Wenzel Botha, vir skuldigbevinding op die alternatiewe klag van strafbare manslag gevra het omdat die beskuldigde nie die doel gehad het om dood te maak nie en berou toon.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie.
Geen getuies is deur of die staat of die verdediging geroep nie en word die beskuldigde se weergawe deur die hof aanvaar.
Conradie se nalatige optrede het tot Malgas se dood gelei.
Die hof het gelas dat Conradie aangehou word in afwagting op 'n proefbeampteverslag soos aangevra deur die verdediging, en die saak vir vonnisverrigtinge tot 15 Junie uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'