OUDTSHOORN NUUS - Die bykans 90 tydelike munisipale werknemers wat as sekerheidsbeamptes aangestel is, is woedend omdat hulle moontlik hulle poste kwyt is.
'n Groep werkers het Dinsdagoggend voor die munisipaliteit vergader en daarop aangedring om met die munisipale bestuurder en amptenare te praat. Volgens die groep is hulle Maandag in kennis gestel dat 'n sekerheidsmaatskappy deur die munisipaliteit aangestel is om voortaan die sekerheid by verskeie munisipale terreine te hanteer.
Die groep is ongelukkig omdat daar glo verlede jaar vir hulle gesê is die munisipaliteit gaan vir die volgende vyf jaar nie 'n sekerheidsmaatskappy aanstel nie omdat dit té duur is.
"Hulle het vir ons gesê 'n maatskappy kos hulle omtrent R1,2 miljoen en dat dit hulle amper 'n miljoen minder gaan kos om ons as wagte op te lei en aan te stel," het 'n woordvoerder van die groep gesê.
Volgens hulle is daar geen tenderproses gevolg nie en is 'n maatskappy reeds aangestel.
Een van Oudtshoorn se raadslede, Eva Fortuin, het die ontstoke groep Dinsdag toegespreek en gevra dat hulle Woensdagoggend weer munisipaliteit toe moes kom en dat sy sal sorg dat hulle dan te woord gestaan sal word.
Onder leiding van George Meyer, het die groep Woensdag hul kommer teenoor die waarnemende munisipale bestuurder, Tommie Matthee, uitgespreek.
Matthee het hulle die versekering gegee dat die sekerheidsmaatskappy wat nou aangestel is, slegs op 'n tydelike basis aangestel is. "Die nodige tenderproses om 'n nuwe Iris (Security Industry Regulating Authority) geregistreerde sekerheidsmaatskappy aan te stel is reeds van stapel gestuur."
Volgens Matthee is een van die voorwaardes dat die nuwe maatskappy van die sekerheidswagte wat nou hul poste kwyt is, aanstel.
Die groep het egter geëis om met die munisipale bestuurder te vergader wanneer hy op Dinsdag 22 Mei terugkeer. Matthee het onderneem om 'n vergadering met Paulse aan te vra.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'