DYSSELSDORP NUUS - Die twee voormalige polisiebeamptes van Dysselsdorp wat van moord op 'n man meer as agt jaar gelede aangekla is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof onskuldig bevind op die hoofklag, asook 'n alternatiewe klag van strafbare manslag, maar wel skuldig aan aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Streeklanddros Retha Pretorius, het bevind dat die twee beskuldigdes, Dawid Voster en Daniel Lingerveld, nie die opset gehad het om die oorledene, Frank Links, te dood nie. Voster was ten tyde van die voorval 'n polisiereservis en Lingerveld 'n sersant met vyftien jaar ondervinding.
Pretorius het ook bevind dat hulle nie op die alternatiewe klagte van strafbare manslag skuldig is nie.
Die landdros het in haar uitspraak 'n opsomming van die getuienis voor die hof gegee en gesê dat die twee beskuldigdes sowel as van die staatsgetuies nie 'n goeie indruk op die hof gemaak het nie.
Volgens die landdros was daar talle weersprekings in die getuienis van die staatsgetuies maar dat dit te wagte kan wees na meer as sewe jaar.
Die hof het die getuienis van dr Mariette Hurst wat die nadoodse ondersoek op Links gedoen het, as geloofwaardig bevind. Volgens haar is daar geen tekens dat een van die beskuldigdes hom agter sy kop geskop het nie.
Lingerveld kon volgens haar nie voorsien dat Links van 'n vuishou sou sterf en geen getuienis voor die hof is dat hy die doel gehad het om hom te dood nie.
Voster en Lingerveld is wel aan aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind omdat hulle wel die doel gehad het om die oorledene ernstig te beseer.
Voster het die oorledene geskop en op sy bors getrap terwyl Lingerveld hom met die vuis in die gesig geslaan en op sy bors getrap het.
Willem Vister was die aanklaer in die saak terwyl Christo van der Bergh namens Voster en Lingerveld opgetree het.
Die saak is vir betoë en vonnisverrigtinge tot 25 Junie uitgestel.
Voster en Lingerveld is op waarskuwing vrygelaat.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'