OUDTSHOORN NUUS - Gerugte wat die ronde gedoen het dat die Oudtshoorn-munisipaliteit TFASA en die Aeroklub se kontrakte beëindig het en dat dit nie weer heruitgereik gaan word nie, is die week van alle waarheid ontbloot.
Volgens Oudtshoorn-burgemeester, Chris Macpherson, het die munisipaliteit bloot die twee entiteite in kennis gestel dat hul kontrakte volgende jaar tot 'n einde loop en dat hulle solank met die proses om dit weer te hernu moet begin.
Macpherson het die week in 'n mediakonferensie gesê dat die kontrakte 10 jaar kontrakte was waarin die munisipaliteit gesê het dat die munisipaliteit ook vir die instandhouding van die perseel verantwoordelik sal wees.
"Die munisipaliteit gaan egter die kontrakte so moet verander dat die entiteite op die perseel self vir die herstel verantwoordelik gehou gaan word. Ons word ook volgens wet genoop om te adverteer dat die kontrakte tot 'n einde loop en ander entiteite kan dan hul voorstelle om ook daar te huur indien. Almal kan dus saam op een perseel huur. Die gerugte dat ons beplan om lae inkomste behuising daar te bou is ook nie waar nie," het hy gesê.
Jean Rossouw, direkteur van TFASA, het egter gesê dat hulle op 16 Januarie 'n kennisgewing gekry het dat hul kontrak volgende jaar April tot 'n einde loop en dat die munisipaliteit nie van plan is om die kontrak te verleng of te hernu nie.
Volgens hom het hulle verskeie navrae aan die munisipaliteit gerig waarop hulle tot op hede nie terugvoering gekry het nie.
"Ons is egter nie van plan om die dorp te verlaat nie. Ons het baie hier investeer en ons is van plan om nog uit te brei en nog werksgeleenthede te skep."
Johan Strasheim van die Aeroklub het gesê dat hulle 'n soortgelyke kennisgewing van die munisipaliteit ontvang het, maar waarin die munisipaliteit aanvanklik aangedui het, dat die kontrak Desember al tot 'n einde loop.
"Ons kontrak eindig ook volgende jaar. Ons sou dus vroeër moet gaan. Die burgemeester wou nie aan ons verduidelik waarom die besluit geneem is nie. Ons het later 'n nuwe kennisgewing ontvang waarin daar staan dat dit 'n tikfout was en dat ons kontrak ook eers volgende jaar eindig."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’