OUDTSHOORN NUUS - Vier mans van De Rust, wat tereggestaan het op twee aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer en langer as twee jaar verhoorafwagtend was, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof onskuldig bevind en ontslaan toe die getuies sowel as die ondersoekbeampte wéér nie by die hof opgedaag het nie.
André Wolmarans (27), Sewin Jordaan (31), Booi Luiters (29) en Beuyolun Sauls (26) is daarvan aangekla dat hulle op 29 Desember 2017 vir Nagel Stuurman en Patrick Stuurman met 'n klip gekap, geslaan en beroof het.
Hulle is daarvan beskuldig dat hulle R200 kontant, 'n bottel brandewyn ter waarde van R130, 'n paar Adidas-skoene ter waarde van R800, 'n paar North Star-tekkies van R200 en 'n selfoon gebuit het.
Die vier se regsverteenwoordigers, adv. Benito Metembo en Wenzel Botha, het gesê dat die beskuldigdes geregtig is op 'n spoedige en regverdige verhoor.
Die saak is al verskeie kere uitgestel en die beskuldigdes het op 4 Augustus vanjaar onskuldig gepleit.
Daar was geen getuies op 5 Augustus en 12 Oktober in die hof nie en die saak is Maandag tot die volgende dag uitgestel.
Volgens Metembo het die hof die bevoegdheid om die beskuldigdes ingevolge Art 174 van die strafproseswet vry te spreek omdat hulle weens die gebrek aan getuienis nie skuldig bevind kan word nie.
Volgens Botha is dit nie die staatsaanklaer, Bradon Smith, se skuld nie, maar wel gruwelike nalatigheid van die betrokke ondersoekbeampte.
Streeklanddros Sylvia Mandla het bevind dat die getuies sonder enige rede wegbly van die hof en die versoek van die staat vir 'n verdere uitstel van die hand gewys.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'