OUDTSHOORN NUUS - Die vonnisoplegging van 'n man van Calitzdorp wat 'n 15-jarige meisie verkrag het is in die Oudtshoorn-streekhof vir proefbeampte- en korrektiewe verslae uitgestel.
Naydrin McDillon is skuldig bevind aan twee aanklagte van verkragting.
Hy het erken dat hy geslagsgemeenskap met die meisie gehad het, maar getuig dat dit met haar toestemming was.
Op die aanklag dat hy haar verkrag het deur van sy vingers gebruik te maak, het hy onskuldig gepleit.
Streeklanddros Daniel Boks het die getuienis van die klaagster, wat in camera gebeur het, tydens sy uitspraak in die hof uitgelees.
Die klaagster het, volgens die landdros, getuig dat McDillon teen haar sin saam met haar na haar tante gestap het. 'n Ent verder is sy skielik vasgegryp toe hulle deur 'n draadheining geklim het en hy haar gewurg het dat sy nie kon asem kry nie. Sy het egter losgekom, maar hy het haar weer by 'n volgende draadheining vasgegryp en gewurg.
Hy het haar gevra of sy mense sien aankom en toe sy nee sê het hy haar beveel om binne drie tellings al haar klere uit te trek. Sy het dit gedoen omdat hy haar met 'n mes wou steek
Die geneesheer wat haar ondersoek het, dr. Milton Groenewald, het getuig dat haar bese-rings op geforseerde penetrasie dui.
Die staatsaanklaer, Nadia le Roux, het die hof versoek om McDillon op albei klagtes skuldig te bevind terwyl sy regsverteenwoordiger, Gideon Badenhorst, die hof om vryspraak gevra het.
Landdros Boks het in sy uitspraak gesê die klaagster het 'n kronologiese uiteensetting van die dag se gebeure gegee. Sy was nie seksueel aktief nie en het die verkragting aan die eerste persoon gerapporteer wat sy raakgeloop het.
Hy het McDillon se weergawe, dat sy toestemming gegee het, as leuenagtig en vals verwerp.
"Toestemming moet sonder dwang wees. Die klaagster staan kaal en word met 'n mes gedreig. Dit kan nie toestemming wees nie. Vrees en intimidasie sluit vrywilligheid uit."
Vonnisoplegging geskied op 23 Augustus.
ARTIKEL: GARNETT WICOMB, OUDTSHOORN COURANT KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'