OUDTSHOORN NUUS - Hofverrigtinge in die saak teen 'n man van Oudtshoorn wat tereggestaan het op aanklagte van huisbraak, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en poging om 'n seksuele daad met 'n 12-jarige meisie te pleeg is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof gestaak na die verdagte oorlede is.
Andries van Mansdorff (27) wat sedert 3 Oktober 2020 in aanhouding was, het glo by die woning van Tommy en Katy Blaauw in Mullerstraat, Bridgton, ingebreek.
Hy het Tommy Blaauw (65) na bewering met 'n stomp voorwerp oor die kop geslaan, vir sy seun, Lionel Blaauw met 'n hamer probeer slaan en ook probeer om 'n seksuele daad met die 12-jarige kind te pleeg.
Die verdagte het onskuldig gepleit.
Die laaste twee staatsgetuies, sers. André Fourie en ao. Darome Burger het oor die arrestasie van die beskuldigde en sy identifikasie deur twee van die klaers tydens 'n identifikasieparade op 5 Oktober 2020, getuig. Die verdagte is op 8 Oktober aan natuurlike oorsake oorlede.
Die saak het voor streeklanddros, Ntsoki Moni gedien.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'