Die Oudtshoorn Courant loods van vandag af tot ten minste na die Kersseisoen ons WAR (We Are Responsible) -veldtog teen roekeloosheid. Na samesprekings die afgelope week met die polisie, die provinsiale verkeershoof, Gerald Becker, en die munisipale verkeershoof, Thembuxolo Tyatya, is groot ondersteuning vir die veldtog verkry.
Uit die samesprekings het dit duidelik geblyk dat alle vingers nie na die owerhede gewys kan word om op hul eie die probleem aan te spreek nie. Die twee verkeershoofde, sowel as die bevelvoerder van Oudtshoorn-polisie, brig. Levonia Januari, het gesê dat hulle dringend aandag gee aan die probleem, maar dat padgebruikers ook baie dringend na hulle eie verantwoordelikheid moet kyk.
Van die drie senior wetstoepassers se kant af is die volgende ondernemings ten opsigte van wetstoepassing gegee:
- Meer sigbaarheid
- Streng optredes teen oortreders Reaksie op inligting en klagtes vanaf die publiek
- Gereelde padblokkades, afsonderlik en gesamentlik
- Hersiening van skoftye en diens-ure ten opsigte van verkeersbeamptes
- Skakeling met die media
- Deelname aan die WAR projek.
Bewusmaking: Die Oudtshoorn Courant gaan:
- pamflette met die boodskap dat ons elkeen self verantwoordelik is vir ons padgedrag, laat druk en deur die loop van die veldtog uitdeel
- hoërskole besoek en slagoffers van motor- en motorfietsongelukke vra om met die leerders te praat
- weekliks van volgende week af ons WAR against reckless driving -veldtog op bladsy 2 publiseer met inligting
- in September 'n motorfietsbewusmakingsrit reël.
Aanmelding: Die publiek word gevra om oortreders by die twee verkeersdepartemente aan te meld. Beide verkeershoofde het gesê dat hulle klagtes wat onder hulle aandag gebring word sal opvolg.
Aanmeldings kan op die volgende wyse gedoen word:
- Op paaie buite die dorpsgebied van Oudtshoorn kan 'n oortreder se registrasie nommer, die tyd van die oortreding, beskrywing van die voertuig en die oortreding aangeteken word en aan die verkeershoof, Gerald Becker, deurgegee word deur dit by die munisipaliteit se beheerkamer aan te meld. By 044 203 3000. Bestuurders van voertuie moet asseblief nie selfoonfoto's van oortreders neem of die persone self konfronteer nie. 'n Lid van die provinsiale verkeersafdeling sal die motoreienaar kontak en hom inlig dat sy oortreding aangemeld is en dat sy registrasienommer op 'n databasis aangeteken is. Die aanmelder bly anoniem, behalwe as hy voel daar moet 'n klag gelê word, maar dan moet die persoon bereid wees om as getuie geroep te word.
- Op paaie binne die dorp word presies dieselfde prosedure gevolg, maar inligting van oortreders word aan die Oudtshoorn Courant deurgegee, wat dit op 'n weeklikse basis aan die munisipale verkeershoof sal deurgee vir opvolging.
Gerald Becker, provinsiale verkeershoof van die Suid-Kaap en klein Karoo.
Die munispale verkeershoof, Thembuxolo Tytya. Foto's: Hannes Visser
Verkeersbeamptes voer op verskillende tye en op verskillende
plekke roetiene ondersoeke uit.
ARTIKEL: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT REDAKTEUR
Klik hier vir 'n verwante nuusflits.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'